Ons moet nie eng leef nie, en ook nie eng dink of lees nie.
Ons kan juis met groot vrug sout en lig en suurdeeg wees,
wanneer ons as kinders van die Here ons invloed laat geld
waar dit juis effek moet hê. Veral ook by mense wat anders dink as ons.

Om byvoorbeeld oor iemand te praat,
of wyshede van iemand aan te haal, wat nie noodwendig ‘n Christen is nie,
is nie per definisie verkeerd nie.
In sy genade het God ook wysheid wyer uitgedeel as net die Bybel.
Baie volke, met ander gelowe, beskik oor baie wysheid. Soos die Chinese.
Ons moet egter alle wysheid lees in die lig van die Skrif en dit daaraan toets.
Al haal ons iemand aan wat anders as ons glo,
kan dit juis ook wees om die waarheid te beklemtoon van die Woord.
Nietszche se uitspraak van “God is dood”,
het juis God se Woord soos suurdeeg laat loop, en soos lig laat skyn!
Om iemand aan te haal beteken nie noodwendig dat jy saamstem nie,
maar juis daardeur die waarheid wil beklemtoon.

Paulus het self ‘n paar vreemde filosowe en digters aangehaal.
Soos Aratus in Handelinge 17:28.
‘n Reël uit die toneelstukke van Euripedes en Menander word in
1 Kor. 15:33 aangehaal: “slegte geselskap bederf goeie morele waardes”.
‘n Griekse profeet, Epimenides, word selfs in Titus 1:12 aangehaal.
Wanneer Paulus in Handelinge 26:13 voor die Romeinse goewerneur
Festus verskyn, haal hy aan uit Aeschylus se toneelstuk Agamemnon:
“Dit is hard om teen die prikkels te skop”.

Vir geen oomblik is die inhoud van die aanhalings ongeldig,
net omdat Paulus andersdenkendes as hyself aanhaal nie.
Ons kan nie met oogklappe deur die lewe gaan,
en net na eerders-denkendes luister, of net met hulle praat nie.
So isoleer jy jouself van baie wysheid en onderskeidings vermoë.
Dit maak jou dalk “supergodsdienstig”,
maar dit verminder jou doeltreffenheid vir die Here om
op ‘n wye terrein suurdeeg en sout en lig te wees.
Dit verminder juis jou invloed daar waar die Here
jou as sout en lig en suurdeeg wil gebruik.
Ons leef nie soos goddeloses nie. Maar ons beïnvloed hulle!
Verseker beïnvloed ons hulle, deur sterk te staan by ons
geloof in die Woord van God en die God van die Woord!

Wees wakker en wees nugter. Verseker.
Maar leef magneties deur mense aan te trek na die Here,
eerder as om hulle af te stoot weens hul verskil in oortuiging.

Ernest