Iemand vra nou die dag hierdie belangrike vraag:
“Soek jy God, of soek jy die dinge en antwoorde wat Hy moet gee?”
“Móét gee”... nogal. Hierdie is regtig ‘n belangrike vraag.
Ons hoor partykeer: “God skuld my nog ‘n antwoord hieroor...”
Regtig?! God is nie in die beskuldigdebank en ons is die aanklaers nie.

Die Here is God. Hy laat homself vind deur die wat reg na Hom soek.
Baie mense is nie op soek na die dieper verhouding met God nie.
Hulle is selfgerig en soek na ‘n kits-verhouding,
kits-antwoorde en kits-uitkomste uit hul nood.
Hulle soek nie na die Brood van die lewe nie.
Hulle soek gewone daaglikse brood, en dit is vir hulle genoeg.
Kyk maar na die inwoners van Kapernaum in Johannes 6.
Hulle beleef ‘n eenmalige brood vermeerdering uit Jesus se hande.
In plaas daarvan dat dit hulle laat smag na die Brood van die lewe,
wou hulle van nou af elke dag gewone brood hê!

Vandag nog wil mense die dinge hê wat God kan gee,
eerder as die verhouding met God. Hulle soek nie God self nie.
Hulle soek eerder God se kits-aflewerings diens uit die hemel.
Hulle bid immers daarvoor.
Hulle het nie eers tyd om op God te wag nie...

Ons kan regtig nie net na God se antwoorde op óns vrae,
en God se voorsiening volgens óns behoeftes soek nie.
Dan gaan elke antwoord van God se kant af steeds vrae laat,
in plaas van vrede en karakter en groei.
En elke stukkie voorsiening gaan te min bly.
Want ons bly begeer en gryp.
En elke deurbraak en wonderwerk gaan ongesiens verbygaan.
So gaan ons lewenslank die verhouding met God mis,
wat ware lewe gee, en dít, die léwe, in oorvloed.
Laat God jou volgens sý wil vind, nie joú wil nie.

Soek God! God Self! Nie wat Hy vir jou kan gee nie.
Dit gaan oor Hom! Nie oor jou nie.

Ernest