Slegs ‘n klein persentasie van die wêreld se bevolking
van oor die vyf biljoen mense sal uiteindelik
hul potensiaal ontwikkel en benut.
‘n Nog baie kleiner persentasie sal uiteindelik die potensiaal
wat God in hul deponeer tot sy eer laat groei en vrug dra.

Dink net daaraan: God het jou geskep na sy beeld.
En wanneer jy ‘n kind van God word,
is Christus in jou en jy in Christus!
Daarvan sê 1 Johannes 4:4: “Julle behoort aan God,
liewe kinders, en het ...klaar oorwin omdat Hy wat in julle is,
groter is as die duiwel wat in die wêreld is”. Lees dit weer!
En die Heilige Gees woon in jou! Jy kan sy vrug dra!
Jy is God se verteenwoordiger in hierdie wêreld! Genesis 1:27.
Watter ongelooflike potensiaal is nie in jou nie!
Die potensiaal in ons is nie deur God gegee om in die graf
gedeponeer te word nie, maar om op aarde bereik te word
en tot sy eer uitgeleef te word.

Wat is potensiaal?
Dit is dormante moontlikhede. Gereserveerde krag.
Onbenutte krag. Verborge of ongebruikte talente.
Onderdrukte moontlikhede.
Potensiaal is nie wat jy al gedoen het nie,
maar wat nog vir jou moontlik is om te doen!
Wat jy reeds gedoen het is nie meer jou potensiaal nie.
Wat jy kán doen, wat verder strek as wat jy reeds gedoen het,
is jou potensiaal. Indien jy nie bly “grense” oorsteek nie,
sal jy nooit jou volle potensiaal bereik nie.
Potensiaal, in die positiewe sin van die woord, beteken om
nooit tevrede te wees met wat jy reeds bereik het nie.
Jy wil geestelik bly groei om meer en meer
die beeld van Christus te vertoon. 2 Korintiërs 5:5:
“Hy wat ons vir hierdie oorgang voorberei het, is God.
As waarborg hiervan het Hy ons sy Gees gegee”.

Een van die grootste vyande van potensiaal is “sukses”.
Om jou volle potensiaal te bereik moet jy nooit tevrede
wees dat jy klaar sukses behaal het nie.
Jou laaste sukses lê nog vóór jou volle potensiaal...!
Moet ook nie dit wat jy “nie kan doen nie”,
‘n invloed laat hê op wat jy “kan” doen nie!
Dit rem jou potensiaal. Onthou Filippense 4:13
is ook van toepassing op jou potensiaal:
“Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee”.

Die grootste tragedie in die lewe is nie die dood nie,
maar ‘n lewe wat nie die potensiaal bereik wat God daarmee
bedoel het nie. Hy het alles in jou ingeskep, en jou herskep in
Christus, om dit vir jou moontlik te maak om sy doel met jou
lewe te bereik. Potensiaal ken nie oorgee of aftrede nie.
God bly daardeur in jou werk,
en Hy sal sy doel met jou bereik, ten spyte van...
Stel jouself tot sy beskikking. Voluit!

Ernest