Die reël het gesê:
“Iemand wat egbreek pleeg met die vrou van ‘n medeburger,
moet doodgemaak word. Dit geld vir die man en ook vir die vrou
wat egbreek pleeg”. Lev. 20:10.
Die Skrifgeleerdes en die Fariseërs was mense wat daarop aangedring
het dat godsdienstige reëls baie nougeset nagekom moes word.
Toe hulle ‘n vrou in die daad van owerspel betrap,
het hulle seker gedink: Kom ons neem haar na Jesus toe.
Hulle wou kyk of Jesus by die reëls hou.
Maar Jesus weet dat dit oor die mens en sy verhouding met God gaan.
Meer nog, dat dit alles oor God gaan en nie oor reëls nie.
Daarom het Hy die Wet sy volle betekenis kom gee.
Jy moet God bo alles liefhê, en jou naaste soos jouself.
Hy beklemtoon self dat die sabbat vir die mens gemaak is,
en nie die mens vir die sabbat nie. Markus 2:27.
Jesus het iets in die sand begin skryf. Hoe sou ons nie wát wou gee
om te weet wat Hy daardie dag in die sand geskryf het nie.
Maar dit is nog baie belangriker wat Jesus sê!
En dit weet ons! Johannes 8:7:
“Laat die een van julle wat ‘n skoon gewete het,
eerste ‘n klip op haar gooi.”
Dadelik het elkeen geweet hulle is net so skuldig. Om in die geheim op
‘n Sabbat te gewerk het was ook met die dood strafbaar.
Of om ‘n moeilike tiener te gewees het was ook swaar strafbaar.
Van die oudste tot die jongste, ook Skrifgeleerdes en Fariseërs,
het almal weggeloop.
Almal het besef hoewel hulle miskien nie owerspel gepleeg het nie,
was hulle almal ewe skuldig voor die Wet.
Jakobus sê immers in Jakobus 2:10: “As iemand die hele wet onderhou,
maar in een opsig struikel, is hy skuldig ten opsigte van al die gebooie”.
As jy met die wet wil oordeel moet jy weet dat jy self dán óók onder
die wet staan. En elkeen wat onder die wet wil leef verdien die dood.
Dit is hoekom Jesus gekom het. Sodat ons in Hom vrygespreek kon word
van die sonde onder die wet. ‘n Godsdiens wat met reëls werk,
is tot die dood toe kliphard. En dit is ook geneig om die reëls altyd op
ánder mense toe te pas. Godsdiens is bedoel om God te dien,
en toe te laat dat jy, as nuwe mens in Jesus Christus,
voortdurend onder beheer van die Heilige Gees leef.
Hý verander en vernuwe ons dag na dag,
om meer die beeld van Christus te vertoon.
Moenie onder die wet leef, of met die wet ander veroordeel nie.
Ernest