Die Skrifgeleerdes en Fariseërs kla
‘n vrou wat owerspel gepleeg het aan.
Hulle dring daarop aan dat die “reëls” toegepas word.
En hulle hou aan daarmee, sê Johannes 8:7. Reëls is ongenadig.
Hulle praat sommer van “hierdie vrou”. Die persoon tel nie.
Net die oortreding. “Laat die een van julle wat ‘n skoon gewete het,
eerste ‘n klip op haar gooi”, sê Jesus.
Hulle het een vir een begin wegloop.
“Mevrou” het Hy vir haar gesê.
Dit openbaar reeds ‘n heel ander houding.
“Mevrou, waar is hulle?
Het nie een van hulle die oordeel oor jou voltrek nie?”
“Niemand nie Here”, het sy geantwoord. Toe sê Jesus:
“Ek doen dit ook nie.” Gaan maar en moet van nou af nie meer
sonde doen nie.”
Jesus kyk nie na hierdie vrou as ‘n reël oortreder nie, maar as ‘n mens.
Hy sien haar nie as ‘n slegte vrou nie, maar as iemand wat regtig kan
ophou sonde doen. Jesus sien ‘n ander moontlikheid in haar.
Die moontlikheid van die ewige lewe.
Jesus sê ook nie vir die vrou dit wat sy gedoen het is sommer niks nie.
Wanneer Hy sê “moenie meer sonde doen nie”, dan sê Hy sy het
wel sonde gedoen. Maar Hy veroordeel die oortreding,
en nie vir haar nie. Hy gee haar ‘n nuwe kans.
Reëls veroordeel oortreders (verse 4-5), maar genade red oortreders.
As die Fariseërs hulle sin gekry het, dan sou hulle reëls ‘n einde
gemaak het aan die vrou se lewe. Maar Jesus se hantering van die vrou,
gee vir haar ‘n nuwe lewe!
Hoe oordeel en veroordeel ons? Spreek ons dood, of lewe?
Is reëls vir ons belangriker as lewe?
Na Jesus se antwoord aan die Fariseërs, het Hy weer gebuk
en op die grond geskryf. Wat het Hy geskryf?
Wat sal Hy skryf as ons in hulle plek was?
Hoe sal jy die vrou hanteer het? Hoe oordeel jy?
Ernest