In Matteus 12:1-8 lees ons dat Jesus en sy dissipels
op ‘n sabbat deur gesaaides loop. Die dissipels het honger geword,
are gepluk en koring geëet. Toe die Fariseërs dit sien sê hulle vir Jesus:
“Kyk daar! U dissipels doen iets wat op die sabbatdag nie gedoen
mag word nie.”
Dit is tipies van reëls. Hulle word net al meer en meer!
As jy een kant van ‘n reël verbyglip, maak hulle ‘n reël om daardie gat
toe te stop. En as jy anderkant verbyglip, maak hulle nog ‘n reël,
vir daardie kant. So was dit ook met die Fariseërs,
en so is dit vandag nog met mense wat God met reëls en wette wil dien.

Die reël het gesê jy mag nie op ‘n sabbat werk nie. Maar wat is werk?
Werk jy as jy kosmaak, tennis speel, swem, naaldwerk doen, of boek lees?
So wat is die oplossing? Maak nog reëls om die onsekerheid uit die weg
te ruim, en presies te sê wat is werk en wat nie. Nog honderde reëls kom by!
Jy mag net soveel honderd meter loop, en nie kos maak nie. En, en...
Geen wonder dat Jesus vir die Fariseërs, en vir ons, in Matteus 23:4 sê dat
ons swaar pakke reëls op mense laai, en hulle nie help om dit te dra nie.
Wat goed bedoel was, het ‘n ondraagbare las geword! Doen ons dit nog?

Jesus help dan met ‘n voorbeeld uit Dawid se tyd, waar reëls onder
sekere omstandighede nie streng toegepas kon word nie,
omdat die mens belangriker is as die reël. Hulle het die offerbrood geëet,
wat net vir die priesters bedoel was.
Jesus wil sê dat godsdienstige reëls riglyne vir die lewe is, en nie ‘n wet nie.
En alle godsdienstige reëls is onderhewig aan die barmhartigheid van God.
Jesus sê in vers 7: “As julle begryp het wat dit beteken:
“Ek verwag barmhartigheid, en nie offers nie”,
dan sou julle nie mense wat onskuldig is veroordeel nie.”

Barmhartigheid teenoor die mens is belangriker as die godsdienstige reël.
Reëls het die vermoë om baie onbarmhartig te wees.
Liefde vir jou medemens beteken om hom nie onbarmhartig te veroordeel nie,
volgens onbuigsame reëls nie, maar om sy of haar omstandighede
in ag te neem, en dan met liefde en barmhartigheid te oordeel.
Ware godsdiens ontspring uit nuwe lewe in Christus, en nie uit reëls nie!

Ernest