Barmhartigheid vorm deel van die kern van die Christelike geloof.
Deuteronomium 10 verse 14 en 17 sê dat God
alles besit en oor alles beskik.
Tog verdruk Hy nie klein mensies nie. Inteendeel.
God gebruik sy mag om hulpelose mense soos slawe,
weduwees en weeskinders te red.
Hy gee ook spesiale aandag aan “vreemdelinge”, mense sonder regte.
Hoofstuk 24:25 sê dat Hy Hom selfs bemoei met die loon
van ‘n dagloner, ‘n eenvoudige werker.
As God so is, kan ons as sy kinders mos nie anders wees nie?!
Ons kan maklik voorgee dat ons omgee.
Dat ander mense se lot ons aangaan, sonder dat dit ons regtig raak.
Ons kan dinge sê wat lyk na die regte dinge om te sê,
sonder om regtig betrokke te wees by die ellende van ander mense.
Jakobus sê ‘n mens kan nie maar net vir iemand wat honger is sê:
Word versadig! of vir iemand wat koud kry sê: Word warm! nie.
Woorde van simpatie is nie genoeg nie.
Ons moet iets aan die situasie doen.
Daar is ‘n verskil tussen meegevoel en medelye.
Meegevoel is ‘n gevoel van jammer wat sê “foei tog”.
Dit is nodig om meegevoel te hê met ander mense omdat dit sê
dat jy al ‘n gevoelige hart in jou omdra.
Maar meegevoel alleen is nie genoeg nie.
Meegevoel moet medelye word.
Medelye beteken dat jy langs die ander mens in sy of haar nood
gaan staan, in die ander persoon se skoene,
en na die beste van jou vermoë iets daaraan doen. Jy ly regtig saam.
Romeine 12:15 beskryf dit treffend:
“Wees bly saam met die wat bly is, en treur saam met die wat treur.”
Wanneer ons só saam met ander mense kan leef,
is ons fyn op hulle lewe ingestel,
en deel jy God se meegevoel en medelye met hulle.
Gee regtig om, in plaas van om voor te gee...
Ernest