Matteus 13:38 sê:
“...Die goeie saad is die mense wat aan God se koninkryk behoort...”
Om jou potensiaal te verstaan, is dit nodig om na een van die
natuur se sterkste elemente te kyk. Saad! Ja, saad!
Die Bybel gebruik gereeld hierdie beeld van saad.
Wanneer jy ‘n boom-saad sien, dink jy gewoonlik eenvoudig daaroor
dat dit ‘n saad is. Maar wanneer jy verder dink oor die inherente natuur
van die saad, die moontlikheid wat daarin opgesluit is, die potensiaal,
dan sal jou gedagte dat dit bloot ‘n saad is, ‘n feit wees, maar net ‘n deel
van die hele waarheid. Die volle waarheid daarvan is dat jy die
potensiaal van ‘n woud in jou hand hou! Hoekom?
Want in elke saad is daar ‘n boom. En in elke boom is daar vrug of blom,
met saad daarin! En daardie saad het boom en vrug en blom daarin.
En so bly die proses hom herhaal en wys dit die potensiaal uit een saad!
In werklikheid beteken dit: Wat jy sien is nie alles wat daar is nie!
Daar is baie meer potensiaal as wat jy net kan sien. Dit is potensiaal:
Nie wat voor die hand “is” nie, maar wat kan wees!
God het alles geskep met potensiaal. Ons het nie ‘n idee wat alles
uit iets kan kom wat ons maar net so voor die hand sien nie.
So is dit ook met die mens. Met jou!
Volgens bogenoemde teks is jy deel van God se goeie saad!
God het in jou die moontlikheid ingeskep om baie meer te wees as
wat jy op hierdie gegewe oomblik is. Daarom is groei, soos met saad,
deel van jou kind van God wees potensiaal!
Om te groei na jou volle potensiaal, jou lewe lank!
Niks in ware lewe is “kits” nie. Daar is nie werklik kits oplossings nie.
Of kits wonderwerke nie. Of kits groei nie.
Dit is alles steeds ‘n proses wat net verhaas is. Maar nie kits is nie.
Niks wat God geskep het is “kits” nie.
Alles wat God skep werk met die potensiaal beginsel.
Alles wat God skep begin met potensiaal.
God het nie die aarde geskep met ‘n “kits” menslike ras nie.
Die wêreld was nie eensklaps gevul met ‘n wêreld bevolking nie.
God het begin met “een saad”, man en vrou. En dan sê Genesis 1:28:
“God het hulle geseën en gesê:
“Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde...”
God het geweet in die saad wat Hy in Adam en Eva ingeskep het,
is potensiaal om die hele aarde te vul.
So werk God ook met jou.
Hy werk met jou met die beginsel van potensiaal.
Hy het dit in jou ingeskep om baie meer te wees as wat jy
ooit kan besef, dink of bid.
Gaan groot! Gaan vir God se doel met jou!
God het joú geskep met Goddelike potensiaal en Hy woon in jou!
Ernest