Voltooi jou wedloop. Voltooi jou lewensreis soos God dit wil.
Leef jou volle potensiaal uit. Moenie jou Godgegewe lewe mors nie!
Soos die tyd van Jesus se kruisiging nader gekom het,
het Jesus ook gepraat van die potensiaal-beginsel in sy lewe.
Hy het Homself vergelyk met ‘n graankorrel, in Johannes 12:24:
“Ek verseker julle, as ‘n graankorrel nie in die grond val en sterf nie,
bly hy net op sy eie bestaan; maar as hy sterf, lewer hy baie vrug op.”
Wanneer ‘n graankorrel in die grond val en ontkiem,
lewer dit baie meer graankorrels op. En op hulle beurt weer meer!
In Jesus was God se potensiaal om miljoene mense na redding te bring.
God het beskik dat Herodus nie vir Jesus kon doodmaak nie.
God was met Christus op pad na sy doel van redding vir die wêreld.
Die saad van Jesus se lewe was baie meer as wat die dissipels kon sien!

So was dit ook met Paulus ten opsigte van die potensiaal wat God
in hom plaas. Daar was ‘n tyd, vroeër in sy bediening, wat hy graag sou
wou gaan om God te ontmoet. Al sou hy verkies om te sterf en by
Christus te wees, het hy geweet God se doel met hom en sy lewe is
nog nie vervul nie. Daar was nog baie wat God deur hom wou doen
ter wille van sy doel met mense. Dit was nog nodig dat hy moes
voortgaan met sy werk, ter wille van die kerk van die Here.
Hy moes onder andere nog Kolossense en Efesiërs skryf!

Later skryf hy hierdie belangrike woorde in 2 Timoteus 4:5-7:
“Maar jy moet in elke situasie jou teenwoordigheid van gees behou.
Moenie bang wees om vir die Here te ly nie. Werk daaraan om ander
na Christus te bring. Voltooi die bediening wat God jou gegee het.
Wat my betref, word my lewe reeds uitgegiet as ‘n offer aan God.
Die tyd van my dood is op hande. Ek het die goeie stryd gestry,
ek het die wedloop voltooi, en ek het gelowig gebly”.
Hierdie laaste sin sê: Ek het die wedloop voltooi.
Efesiërs 3:19 sê ook:
“Mag julle heeltemal met die volheid van God vervul word”.
Leef al jou potensiaal uit!
Wees oop om met die volheid van God vervul te word,
en dit te lééf!

Ernest