Jy is nie die wêreld se niemand nie, maar God se iemand!
Baie mense word eenkant toe geskuif deur ander mense,
omdat hulle nie iets waardevol, in húlle oë, in hulle sien nie.
Moet nooit ooit dink jy is maar net ‘n niemand nie.
Jy is die Skepper God se iemand, met ‘n naam,
en God skep jou, en roep jou op jou naam!
In sy oë is jy die kroon van sy skepping! Psalm 8:6.
Van Michelangelo word gesê dat hy dae en dae om en om groot
marmerblokke geloop het, en ín dit sy beeld gesien het wat hy wil skep.
Dan het hy net die oortollige klip weggekap sodat die beeld,
wat reeds in die marmerblok was, na vore kon tree!
Hy sien eerste die skepping in die marmerblok,
wanneer die ander net die niksseggende blok sien.
Wanneer die wêreld net die uiterlike “marmerblok” sien wanneer
dit na jou kyk, dan sien God die skepping wat Hy van jou maak!
Wanneer die wêreld jou eenkant gooi, tel God sy kosbare skepping op!
God sien in jou wat mense miskyk of ignoreer.
God het jou nie net na sy beeld geskep nie, maar ook vir jou persoonlik
die duurste prys betaal om jou in Christus te herskep na wie jy is!
Hy het jou nie net opgetel en gered nie, maar jou opnuut as sy eie
skepping vir Homself toegeëien.
Slegs die Gees van God getuig saam met jou gees van jou werklike waarde.
Moenie die opinie van ander gebruik om jou waarde te bepaal nie.
Luister na God!
Psalm 139:14: “Ek loof U omdat U my so besonder wonderlik gemaak het.
U werke is wonderbaar, ek weet dit alte goed!”
Ernest