God het na Adam gekyk en ‘n wêreld gesien.
Hy kyk na Abraham en sien nasies.
Hy kyk na Jakob, ‘n bedrieër, en sien in sy nageslag die Messias!
In Moses, die moordenaar, sien God die grootste leier van sy volk.
God sien ‘n koning Dawid in ‘n jong klein skaapherder, en die Here sê
in 1 Samuel 16:7: “Die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie.
Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike”.
God weet wat Hy in jou geskep het, buite en binne.
God sien selfs in jou wat ander mense nie kan sien nie.
Hulle sien ‘n niemand, en God sien die waardevolle iemand.
Jy hoef nie te probeer om iemand te wees nie. Jy is dit reeds vir God.

In Genesis 1:26-27 sê God dat Hy jou na sy beeld geskep het!
Soos ‘n plant in grond leef en net daarin waarde en lewe vind,
en ‘n vis in water leef en net daarin waarde en lewe vind,
so moet ons in die Here leef en in Hom en by Hom ons waarde vind.
Ons waarde lê daarin dat ons na die beeld van God deur God self geskep is!
En in Christus Jesus ook herskep is! En die Heilige Gees woon in jou!

Psalm 139:16 sê dat God oor jou hele lewe en die waarde daarvan beskik:
“U het my gesien voor ek gebore is. In U boek is alles opgeteken;
elke dag is bepaal voordat een van hulle daar was.”
Wil jy regtig nog jou waarde meet aan die wêreld se siening oor jou?
Gaan leef God se wil vir jou lewe, volgens sy waarde,
wat Hy aan jou heg vir jou lewe.

Jy is vir Hom so kosbaar dat Hy in Psalm 139 vers 17 sê:
“Kosbaar is U gedagtes vir my, o God! Hoe onmeetlik is die totaal!”
Gaan leef jou potensiaal!

Ernest