Ons hoef net na die dissipels te kyk om te besef
dat die Here in elkeen van hulle sy potensiaal ingeskep
het om God se verteenwoordiger te wees.
Twaalf uiteenlopende manne.
Hulle het geen spesifieke kwalifikasies gehad nie.
Hulle was nie ryk nie, of buitengewoon vermoënd nie,
en het ook geen spesiale sosiale status gehad nie.
Hulle het nie gevorderde verdere opleiding gehad nie.
Hulle was net twaalf gewone manne.
Maar twaalf gewone manne wat elkeen die potensiaal
het wat God in ons skep om sy verteenwoordigers te wees!
Hulle het Jesus se magnetiese aantrekkingskrag beleef,
en hulle het die moed gehad om verby hulself en hul foute
te beweeg, na die potensiaal wat God in Christus in hulle
losgemaak het.
Enige een van ons sou ook kon kwalifiseer,
en daarom is ons inderdaad vandag dissipels van die Here!
William Barclay sê oor die dissipels:
“These twelve had all kinds of faults,
but whatever else could be said about them,
they loved Jesus and they were not afraid to tell the world
that they loved Him – and that is being a Christian”.
Dit geld ook ons! Die oue is verby, die nuwe het gekom.
Kolossense 3:9-10 “Julle het met die ou sondige mens en sy
begeertes gebreek en leef nou die lewe van die nuwe mens,
wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper,
en tot die volle kennis van God”.
Praat van die potensiaal wat in ons opstaan in die Here!
Geen wonder nie dat Jesus in Johannes 14:12-13 sê dat ons
wat in Hom glo, ook die dinge sal doen wat Hy doen!
Jesus roep nie volmaaktes nie, maar gewilliges,
mense wat hulself tot God se beskikking stel,
sodat Hy sy potensiaal in hulle gebruik tot sy eer alleen!
Dit is wie jy nou is! Gaan leef dit!
Ernest