Markus 3:31-34: “Daar het ‘n skare rondom Hom gesit.
Hulle sê toe vir Hom:
“Kyk, U ma en U broers en U susters staan buite en vra na U.”
Jesus het geantwoord: “Wie is regtig my ma en my broers?
Elkeen wat aan God gehoorsaam is ,is my eintlike familie.”
Behalwe dat jy vir God baie spesiaal is as indiwidu,
en dat Hy in ‘n persoonlike verhouding met jou wil staan,
behoort jy ook aan God se familie!
Markus sê hier Jesus noem alle Jesus volgelinge sy familie!
Adrio König vertel ‘n storie wat dit mooi verduidelik:
Twee boeties sit in dieselfde skool klas.
Die juffrou skryf die name en geboortedatums neer.
Jannie is 7 en verjaar op 1 Mei. Pieter is ook 7 en verjaar op 1 Augustus.
Albei in dieselfde jaar gebore? Onmoontlik! Die juffrou kyk vraend op.
“Ja, juffrou”, sê Pieter. “Een van ons is aangeneem,
maar ons weet nie watter een nie.”
Dit is die goeie nuus wat Markus hier vir kinders van God gee.
God het net een natuurlike Kind en duisende miljoene aangenome
kinders deur al die eeue. Maar God maak nie onderskeid nie.
Hy behandel sy aangenome kinders, ons,
nie anders as wat Hy sy Kind Jesus Christus behandel nie.
Dit is wat Romeine 8:17 sê:
“As kinders van God is ons ook erfgename van God.”
Ons is nie tweedeklas erfgename wat terloops hier op die agterblad
van die testament genoem word nie.
Ons name staan saam met Jesus se Naam!
Ons erf wat Hy van God erf! Ons is broers en susters van mekaar,
en Hy is ons oudste Broer wat eerste uit die dood opgestaan het.
In Christus se kruis is ons “bloedfamilie” van mekaar.
E. Stanley Jones het gereeld gesê:
“Everyone who belongs to Christ
belongs to everyone who belongs to Christ.”
Wonderlik!
Ernest