Ons kan dikwels iets klein doen sonder om te besef
hoe groot God uiteindelik daarmee doen.
Klein dade waarmee God groot dinge tot sy eer doen.
Soos mosterdsaad geloof, is dit mosterdsaad dade.
Jesus praat in Markus 4:30-34 van die konings heerskappy van God,
en dan verwys Hy na wat ‘n mosterdsaad kan doen,
wanneer Hy verwys na die grootheid daarvan.
“Waarmee kan Ek die konings heerskappy van God vergelyk?”,
het Jesus gevra. “En met watter voorbeeld sal Ek dit toelig?
Dis soos ‘n mosterdsaadjie wat wel die kleinste van alle sade is,
maar nadat dit geplant is, skiet dit op en word groter as al
die plante in die tuin.”

Klein mosterdsaad-dade kan net so ‘n groot effek hê!
Die “sade” wat jy saai kan byvoorbeeld net klein dade van
vriendelikheid wees, wat wortelskiet en vrug dra.
Oscar Wilde vertel van so ‘n geval wat ‘n groot impak op hom
gehad het. Hy was in die tronk vir geldelike probleme,
toe hy na die hof vergesel is deur twee polisiemanne. Geboei!
Langs die pad het iemand van die gemeenskap hom vriendelik
en opreg gegroet, met eerbied deur ook sy hoed te lig.
Oscar Wilde sê later hieroor:
“He performed an action so sweet and simple, that it has
remained with me ever since...It was in this spirit,
and with this mode of love, that the saints knelt down to wash
the feet of the poor, or stooped to kiss the leper on the cheek...
That small bit of kindness brought me out of the bitterness of
lonely exile into harmonywith the wounded, broken,
and great heart of the world.”

Plant die klein mosterd-saadjies van ‘n glimlag,
of ‘n bemoedigende woord of daad, ‘n omgee en helpende hand.
Dit laat God se koninkryk groei. Dit laat mense God raaksien.

Ons dade, groot of klein, is soos klippies wat ons in die poel van
die lewe gooi. Self verdwyn die klippie.
Maar die sirkels op die water kring uit, die effek van die daad,
in God se koninkryk tot in ewigheid!
Dit is wat God met jou dade doen! “Groot” of “klein”.
Hy maak elke daad wat tot sy eer gedoen is...gróót!

Ernest