Bang vir Jesus?...of veilig by Jesus?
Daar is die merkwaardige gebeure in Markus 5,
waar Jesus ‘n besetene gesond maak.
Hierdie besetene storm op Jesus af wanneer Hy uit ‘n skuit klim.
Die besetene het tussen die grafte gewoon.
Hy was woes en onbeheerbaar en die mense kon hom nie eers
met kettings vasbind nie. In Markus 5:7 skreeu die besetene:
“Wat het U met my te doen, Jesus, Seun van God die
Allerhoogste? Ek smeek U: In Gods Naam, moet my nie pynig nie!”
Jesus het natuurlik alles met hierdie man te doen.
Vir hom en vir ons het Jesus na die wêreld gekom!
Jesus het gesê: “Bose gees, gaan uit die man uit!”
Ons weet hoe die “legio” van bose geeste, so baie was hulle,
uit die man uitgegaan het, in die varke in, soos die bose geeste
gesmeek het. Hierdie is ‘n vreemde verhaal...
Vir Jesus is diere ook belangrik, maar die man se siel is vir Hom
belangriker. Jesus gee aan die man ‘n bewys dat die demone
uit hom weg is. Hy sien self hoe hulle in die varke invaar.
Die varke se wagters het ook weggehardloop en dit oral vertel.
En dan gebeur ‘n merkwaardige ding.
Die mense kom kyk wat daar gebeur het, en dan staan daar in
vers 15: “Toe hulle by Jesus kom en die besetene in wie die baie
geeste was, daar sien sit met sy klere aan en by sy volle verstand,
het hulle groot geskrik.” Hulle het groot geskrik!
Vers 17 sê hulle het toe by Jesus daarop aangedring dat Hy uit
hulle gebied uit moet weggaan.
Die reaksie van die dorpsmense is fassinerend.
Die feit dat die man rustig met Jesus sit en gesels het,
het hulle meer bang gemaak as die episode met die varke!
Hulle het so iets nog nooit gesien nie en is bang!
Vrees verlam jou so dat jy nie helder kan dink nie.
Wie is dié Jesus? En wat gaan Hy aan hulle doen?
Daarom vra hulle Hy moet eerder weggaan.
Uiteindelik moet ons Jesus “face”, in die oë kyk!
Wie anders kan ons verander as Hy?
Wie anders kan die verandering bring wat, letterlik,
lewensbelangrik is?!
Jesus is nie “veilig” in hierdie sin van die woord nie.
Wanneer jy Hom in jou lewe toelaat moet jy weet:
Hy gáán jou verander!
En as jy nie wil verander nie, as jy net jouself wil bly,
in jou gemaksone wil bly, dan gaan dit jou bang maak.
Want dan is jy nog belangriker vir jouself as Hy.
Jy gaan soos hierdie mense reageer wat wil hê dat
Jesus eerder moet weggaan.
Jesus is nie “veilig” nie. Maar Jesus is goed! Hy is God.
En daarom is die enigste plek waar jy jou vrese kan oorkom,
en inderdaad veilig kan wees, by Hom!
Sy volmaakte liefde verdryf vrees!
Ernest