Jesus se eie mense het Hom geken,
maar kon nie glo dat Hy die Messias is nie.
Markus 6:1-6 beskryf hierdie gebeure:
“Hy is tog maar net ‘n blote timmerman,
die seun van Maria en die broer van Jakobus,
Joses, Judas en Simon! Hulle het ernstig aanstoot
geneem aan sy optrede. Toe sê Jesus vir hulle:
“’n Profeet word oral geëer behalwe in sy tuisdorp,
en deur sy familie en sy huisgesin.”

Hoe raak hierdie gebeure ons?
Dit is die ontstellende herinnering, dat dit heel moontlik is,
dat iets of iemand voor jou kan wees waarin die Here jou wil ontmoet,
of waardeur die Here met jou wil praat, maar jy mis dit,
omdat jy jou eie idee het van hoe die Here moet “lyk” en moet “optree”.
Jy kan as’t ware te naby aan iets kom om dit raak te sien.
Soms staan jy te naby aan die bome om die woud te ervaar!
Daar is mense wat Sondag na Sondag kerk toe gaan,
maar hulle ken Jesus op dieselfde manier as wat hulle hul bure ken,
met wie hulle net so af en toe oppervlakkig praat.

Dit is die gevaar waarop ons as Jesus volgelinge bedag moet wees.
Ons kan so gewoond raak aan die lewe van Jesus-volgelinge,
dat die Jesus-oomblikke by ons verbyglip.
Die vraag wat ons onsself elke dag moet afvra, is nié:
“Waarom het Jesus se eie familie en dorpsmense Hom nie
herken of erken as Messias nie, en nie na Hom geluister nie?”
Die vraag is veel eerder: “Waarom doen óns dit nie,
ons wat weet hy is nie maar net ‘n blote timmerman nie?”

Die Joodse filosoof, Martin Buber, het gereeld gevra:
“As die Messias gekom het, waar is die Messias se mense?”
Hoekom herken en erken hulle Hom so moeilik?
Moenie Jesus “mis” leef nie...Hy staan dikwels voor jou!

Ernest