In Markus 6:30-34 lees ons:
“Die mense wat Jesus uitgestuur het, het na ‘n ruk teruggekom.
Hulle het Jesus alles vertel wat hulle gedoen en gesê het.
Maar dit was omtrent soos ‘n malhuis rondom Jesus.
Jesus stel toe voor dat net hulle klein groepie saam
na ‘n stil plek gaan om ‘n bietjie te gaan rus.”
Een van die heel grootste redes hoekom ons “verby die Here leef”,
is omdat ons te besig is vir die Here.
Ons is inderdaad baie besiger as wat die Here ons wil hê.
Ons leef nie met die ritme wat Jesus self vir ons kom wys het
in ons verhouding met God nie.
Ons moet eers stil raak in die teenwoordigheid van God,
voordat ons saam met God kan uitbeweeg na die
teenwoordigheid van mense.
Wanneer ons dit nie so doen nie, beweeg ons dikwels “alleen”
uit na mense. En dan tap die wêreld en sy mense alles uit ons uit,
en ons loop vlak, in plaas van diep met betekenis.
Ons moet die balans kry wat God se wil vir ons is.
En dit is kwaliteit-tyd by Hom,
sodat ons kwaliteit-tyd by mense kan wees.
John Ortberg het aan sy mentor gevra:
“Wat moet ek doen om geestelik gesond te bly?”
Die mentor het ‘n lang ruk stilgebly, nagedink, en toe gesê:
“Jy moet genadeloos daarin wees om gejaagdheid
uit jou lewe te verwyder.”
“Goed”, het John gesê, “Ek het dit neergeskryf. Wat nóg?”
“Daar is niks anders nie”, het die mentor geantwoord.
“Jy is juis alreeds weer besig om verby hierdie raad te jaag”.
Jy moet genadeloos daarin wees,
om gejaagdheid uit jou lewe te verwyder.
Die duiwel wil jou te besig hou vir die Here.
Onderskei wat God regtig wil hê jy moet doen.
Jy moet genadeloos gejaagdheid uit jou lewe verwyder!
Anders gaan jy dikwels die Here “misloop”.
Iemand (Anoniem) het hierdie gebed geskryf, wat ons kan bid:
“Slow me down, Lord! Teach me the art of taking minute vacations
of slowing down to look at a flower, to chat with a friend, to pat a dog,
to read a good book, and to experience You in it all.
Minute vacations to meet God in all.”
Jy moet genadeloos daarin wees,
om gejaagdheid uit jou lewe te verwyder!
Glo en doen dit!
Ernest