God skep vir jou ‘n feesmaal uit niks!
Ons ken seker almal die wonder gebeure toe Jesus met
vyf brode en twee vissies kos gegee het aan baie mense,
en daar nog soveel kos oorgebly het ook.
In Markus 6:35-44 lees ons:
“Jesus het die vyf brode en twee vissies gevat,
na die hemel toe opgekyk en God gevra om die kos te seën.
Hulle het almal geëet totdat hulle genoeg gehad het.
Later het hulle twaalf mandjies vol oorskiet-brood en -vis opgetel.”
Hier is ‘n baie belangrike beginsel:
Ons bietjie is oneindig baie in God se hand!
En saam met hierdie gebeure die tweede beginsel:
God sal altyd vir ons sorg!
Leo Buscaglia, ‘n bekende skrywer, vertel van wat sy ma gedoen het,
en dat hy dit nooit ooit in sy lewe sal vergeet nie.
Sy pa se vennoot het hom met besigheid uit al sy geld uit verneuk.
Die Buscaglia-gesin het nie geweet waar hulle volgende ete vandaan
sou kom nie. Maar Leo se ma was ‘n wyse kind van die Here,
en het geweet Hy sal voorsien en sorg. Sy wou dit aan haar gesin
demonstreer, dat hulle net van God afhanklik is en moet wees.
Sy het besluit om dit met ‘n feesmaal te demonstreer.
Sy het van haar erfstuk-juwele gaan verkoop.
Sy het almal se gunsteling kosse gekoop en ‘n feesmaal voorberei.
Toe almal aansit vir die maaltyd het Leo se pa uitgeroep:
“Jy is stapelgek!” Nog voor hy iets verder kon sê,
het sy hom in die oë gekyk en beslis gesê:
“Ons het nóú die vreugde van die Here nodig! Nie volgende week nie.
Geniét jou feesmaal wat die Here voorsien!”
Hierdie vrou het haar gesin iets geleer oor die Here se oorvloed,
die Here se sorg, en dat Hy voorsien!
Leo vertel dat dít hulle deur alles gedra het!
Glo dat God uit jou “niks” steeds sal voorsien!
Ernest