Jesus voed nie net die honger mense met brood nie,
maar gaan bid ook vir hulle voordat Hy vertrek na Betsaida toe.
Ons lees in Markus 6:45-46:
“ Dadelik hierna het Jesus sy dissipels aangesê om weer in die boot
te klim en solank voor Hom uit na die oorkant, na Betsaida toe,
te vaar terwyl Hy self die skare huis toe stuur.
Daarna het Hy alleen teen die berg opgegaan om te bid.
Markus wil hiermee sê dat Jesus deernis het met sukkelende mense.
Deernis beteken meer as om net iemand raak te sien en jammer te kry.
Deernis beteken om saam met iemand te ly. Saam te voel, saam te huil.
Om ook iets daadwerklik te doen.
En gebed is nie die laaste uitweg hierin nie, maar die beginpunt.
Gebed is die beste daad voordat ons die res doen!
Om net lyding raak te sien is nie genoeg nie.
Ons kan dit sien, sonder om te voel of te doen!
Dewitt Jones, die bekroonde “National Geographic”-fotograaf,
vertel die tong-in-die-kies-storie van ‘n fotograaf wat ‘n man sien
wat besig is om te verstik. Hy dink by homself:
“Wat ‘n foto! ‘n Man in nood! Wat ‘n boodskap kan die foto uitstuur!”
Hy het sy kamera bly stel en foto’s bly neem.
Die man het hom aan die arm gegryp en hygend uitgekry:
“Ek word blou...kry nie asem!”, waarop die fotograaf uitroep:
“Moenie bekommerd wees nie! Ek neem kleurfotos!”
Daarmee wou Dewitt Jones beklemtoon:
“Just noticing suffering isn’t enough!”
Een van ons kerkliedere het hierdie woorde:
“Waar daar deernis en liefde is, daar is die Heer.”
Ons, as gelowiges, is in die wêreld die lewende tekens van
Jesus se deernisvolle teenwoordigheid by mense!
Is jy?
Daar is iewers ‘n standbeeld van Jesus sonder hande.
Onder die standbeeld staan die woorde:
“Christ has no hands but our hands!”
Wees met deernis betrokke by mense, oral waar jy kan.
Begin by gebed, en doen iets!
Ernest