In Markus 7:24-30 lees ons van ‘n merkwaardige gebeurtenis.
Jy moet dit lees! Dit gaan oor ‘n Siro- Fenisiese vrou,
in Joodse terme ‘n onrein vrou, en Jesus se hantering van haar.
Jesus gaan woon in ‘n huis in Tirus, en Hy wou nie hê dat
iemand dit te wete moes kom dat Hy daar is nie.
Ons wonder hoekom? Moeg van al die aandag aan mense?
Ons weet hoe uitputtend mense kan wees. Veral as jy gee en gee.
Die vrou vind uit Jesus is daar en kom vra dat Hy ‘n bose gees
uit haar dogtertjie moet dryf. Sy het voor Jesus se voete kom neerval.

“Jesus antwoord haar toe: “Dit is mos nie mooi om die geestelike kos
uit Israel se monde te vat en dit vir onrein mense te gee nie.”
Dit is presies die antwoord en optrede wat almal sou verwag het.
En dit is seker ook hoekom Jesus dit so doen, om hulle te leer,
en om te demonstreer wat sy houding teenoor die minstes is.
Want nou volg die res. Sy antwoord: “Ag, dit is waar, Here,
maar onrein mense sal tevrede wees met die stukkies wat van
God se tafel afval.” “Toe sê Hy vir haar:
Op grond van wat jy gesê het kan jy maar huis toe gaan;
die duiwel het al klaar uit jou dogter uitgegaan.”
Toe sy by die huis kom kry sy haar kindjie op die bed lê,
en die duiwel was al klaar uit haar uit.”

Jesus betoon die grootste genade aan iemand wat letterlik deur
die Jode as honde beskou is. Daarom word in die Grieks
gepraat van die hondjies wat die oorskiet onder die tafel eet!
Die vrou vra nie eers vir dieselfde hoeveelheid genade as die vir
die Jode nie, maar wel dat Jesus nou reeds ‘n klein stukkie genade
aan haar dogter sal betoon. Haar antwoord laat Jesus haar dogter
gesond maak, selfs sonder dat Hy haar eers sien!
God se genade is ewe veel vir almal bedoel!

Brennan Manning vertel van toe hy ‘n Katolieke priester was,
en ‘n vrou by ‘n “Broadway”-vertoning met hom wou praat.
Gedurende pouse het hulle buite in die vars lug asem geskep.
Die vrou het aan sy klere opgemerk hy is ‘n priester.
Sy het saggies by hom gepleit: “Father, could I talk to you for a moment?”
Manning onthou dat hy kwaai, in die teenwoordigheid van sy ryk vriende
wat hom saamgenooi het, gesê het: “Can’t you see I’m talking with someone?
Do you make it a habit of interrupting people? Wait over by the wall for me!”
Die vrou het saggies en hakkelend vir hom gesê-vra:
“Would Jesus have talked to Mary Magdelene that way?”
Toe die woorde by Manning ingesink het en hy weer omdraai na haar toe,
was sy weg...
Hieroor het hy later teenoor sy gemeente opgemerk:
“I’ve been looking for her ever since. I made it difficult for her to believe,
that God, whom she had not seen, loved her,
when the priest, whom she had seen, did not!”

Behandel elke mens met wie jy te doen kry met “sagte” genade.
Selfs en veral ook die sogenaamde “honde” van die samelewing.
Deur jóú, wil die Here genade en liefde aan hulle gee!

Ernest