In Markus 7:31-37 genees Jesus ‘n doofstom man.
In verse 34, 35 en 37 lees ons:
“Daarna het Hy na die hemel toe opgekyk,
gesug en vir hom gesê:“Effata!” Dit beteken: “Gaan oop!”
Sy ore het dadelik oopgegaan, die belemmering van sy spraak
het verdwyn, en hy het reg gepraat.
Hulle is geweldig aangegryp en het gesê: “Alles wat Hy doen, is goed:
die dowes laat Hy hoor en die stommes laat Hy praat.”

Vers 37 sê: “Alles wat Hy doen is goed...”
Let op ‘n paar belangrike waarhede van wat hier gebeur,
in dit wat Jesus doen.
Hy kyk in die eerste plek op na die hemel toe.
Die verhouding met God, sy Vader, is sy kragbron.
Dit moet ook so met ons wees.
In alles wat ons doen moet God ons kragbron wees.
Peter T. Forsyth het gesê:
“Unless there is within us that which is above us,
we shall soon yield to that which is around us.”

In die tweede plek sien ons dat Jesus diep sug, sê die Grieks.
Sy sug demonstreer sy opregte medelye met die man.
Sy opregte deernis met die man. Dat Hy die pyn saam met hom voel.
Mag ons ook só opregte medelye en deernis hê,
met mense se pyn in hulle lewe.
Jess Lair het treffend gesê: “Deernis is jou pyn in my hart.”

In die derde plek merk ons op dat daar treffend in vers 37 staan:
“Alles wat Hy doen is goed...”
Mag ons lewens ook as’t ware “oop gaan”, dat ons anders dink en doen,
soos die betekenis van “Effata!”, sodat ons oop dink en doen na ander,
en nie selfgerig bly lewe nie.
Ons moet ook oop raak vir Jesus se manier van doen,
wat nie altyd ons voorkeur en gerief dien nie.
Dan sal ook ons dade wat ons doen, goed wees.

Ernest