Ons eerste instink is om nie te help nie.
As’t ware ons natuurlike instink. Om eerder te dink as te doen.
Dit is seker bloot menslik om die moeite te wil vermy.
Dit is egter God- geïnspireerd om met deernis en omgee
beweeg te word om iemand anders opreg te wil help.
Soos Jesus gedoen het.
Markus 8:2-3 sê:
“Ek voel jammer en bekommerd oor die mense.
Hulle is nou al drie dae hier by My en hulle het
niks meer oor om te eet nie. As Ek hulle nou op ‘n leë maag
huis toe stuur, is Ek seker gaan party van hulle dit nie maak nie,
want hulle bly baie ver.”
Jesus se eerste “instink” is altyd om te help.
Die “National Geografic”-fotograaf, Tomasz Tomaszewski,
het in Mexiko foto’s geneem van mense en hul kulture.
Hy het spesifiek aan die armoede in Mexiko tyd spandeer.
‘n Dogter wou ‘n armadillo-diertjie vir 30 pesos aan hom verkoop.
Hy het besef as hy nie die diertjie koop nie,
is dit die kind en haar gesin se volgende maaltyd.
Hy het die diertjie gekoop en in die bos vrygelaat.
Toe die diertjie wegloop, het hy omgekyk, asof hy dankie wou sê.
Daardie aand het Tomasz sy dogter in Warskou gebel, uit Mexiko,
om haar geluk te wens met haar sewentiende verjaarsdag.
Hy het aan haar gesê:
“Jou geskenk is ‘n Mexikaanse gesin wat vanaand kan eet,
en ‘n gelukkige armadillo wat weggekom het.”
Hy skryf in sy artikel dat daar ook gelukkige “armadillos” in ons lewe is.
Mense wat deur ander mense gehelp word.
Mense wat as’t ware gered word uit hul omstandighede,
en die drukkoker van die lewe vryspring,
omdat ander vir hulle omgegee en hulle gehelp het.
Kathleen Parker skryf dat ons deernis en medelye dalk minder “prakties”
moet dink, as’t ware ophou dink en redeneer,
en eenvoudig net moet help, omdat ons nie anders kan nie!
Die Een wat in ons woon doen dit!!
Die Here wat die Gees is!
Ernest