Daar gebeur so baie ontstellende en vernietigende dinge in ons land.
Moorde, plaasmoorde, gesinsmoorde, politieke moorde, roofmoorde.
Korrupsie, misdaad, rassisme, kwaad in soveel vorme.
Ons kan aanhou opnoem...en wil uitroep: Here help!
Ons sien gesigte en luister na mense wat ons woedend maak,
en ons wil hulle laat vergeld. Kwaad met kwaad!
Ons wil kwaad met kwaad vergeld, en kwaad met swaar straf uitroei.
Romeine 12 ruk ons hard terug na die Here se wil toe:
Vers 17: “Moenie kwaad met kwaad vergeld nie.
Wees goedgesind teenoor alle mense.”
Die Evangelie is so radikaal dat dit my “ou” mens erg verwond!
Nee! Meer nog: Dood maak!
“Here, is dit moontlik?”, vra ons.
Vers 19: “Moenie self wraak neem nie,
maar laat dit oor aan die oordeel van God.”
Ons dink die Here vat te veel sy tyd! Ons is haastig met oordeel.
Ons wil dit ook sommer self voltrek, namens God! Is ons God?
Vers 20: “As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet;
as hy dors is, gee hom iets om te drink...”
Regtig? Regtig Here?
Vers 21: “Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie,
maar oorwin die kwaad deur die goeie.” Huh?!
Ons sug swaar...maar ons moet wéét:
Wanneer jy die Here Jesus kies as Redder en Here van jou lewe,
is hierdie nie meer ‘n keuse nie.
Want dit is nie meer ék wat lewe nie, maar die Here in my!
Die groot vraag bly: Wie is my regtige vyand?!
“Moenie die duiwel vatkans gee nie” – Efesiërs 4:27.
Hý is die vyand! In al hierdie dinge teken hy die punte aan!
Efesiërs 6:12 sê tog só duidelik:
“Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie,
maar teen die bose magte van hierdie wêreld,
teen die bose geeste in die lug.” En, se vers11:
“Ons moet staande bly ondanks die listige aanslae van die duiwel.”
Ons stryd is teen hom en hy kry nou vatkans op ons! Bied weerstand!
“Jy het met die ou mens en sy sondige gewoontes gebreek,
en leef nou die lewe van die nuwe mens,
wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper!...
en tot volle kennis van God.” - Kolossense 3:9-10.
Ons wéét: As ons volgens hierdie vers vernuwe moet word,
om meer en meer die beeld van God te vertoon,
is daar nie ‘n ander uitweg nie, as om die kwaad in die wêreld
met die goeie te oorwin!
Dit is wat God gedoen het! En dit is wat ons, sy volgelinge doen!
Toe ons nog ver van Hom af was, goddeloses,
sy vyande was, volgens Romeine 5:10,
het Hy sy Seun gestuur om ons na Hom toe te bring.
En toe ons mense sy Seun aan die kruis ophang,
het die Seun vir óns gebid: Vader vergewe hulle.
Dit is nie maklik nie. Die wêreld dink dit is gek. Hoe dink jý?
Die wêreld wil kwaad met kwaad vergeld.
Dit is egter juis die toets vir my Christenskap.
Dit is radikaal anders en nuut.
Daaruit blyk of die fontein van lewe,
ware Lewe, uit my uitborrel.
Of nie.
Ernest