Miskien is baie van ons moedeloos dat die evangelie
van Christus so baie van ons vra.
Is dit moontlik om dit te doen? Ons voel ons skiet so ver tekort.
Jakobus het tog ook al gesê ons struikel almal in baie opsigte – Jakobus 3:2.
Hoe moet ons dan oor onsself dink?
Is dit regtig vir óns moontlik om die kwaad met die goeie te oorwin?

Voorbeeld: ons ken die verskillende stadiums waardeur ‘n paddavis gaan,
om in ‘n padda te verander. Ons noem dit metamorfose.
Dit beteken “geleidelike verandering”. Eers verskyn die pote,
dan val die paddavis se stert af, en dan sien ons ‘n nuwe padda het ontwikkel.
Romeine 12:2 sê: “...laat God julle verander deur julle denke te vernuwe.
Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is...”

Ons ondergaan ook ‘n metamorfose.
Ons ontwikkel uit ‘n ou mens deur wedergeboorte, geloof en
daaglikse bekering tot ‘n nuwe mens. Daarom sê Rom. 12: 2 ons moet nie
elke dag meer aan die ou sondige wêreld gelyk word nie.
Ons moet elke dag in die rigting van die volmaakte “verander”.
Die Griekse woord wat Romeine hier vir “verander” gebruik,
is die woord waarvan “metamorfose” afgelei is.
Namate ons deur die wedergeboorte en geloof in Christus
in daaglikse bekering groei, word ons al hoe meer soos Hy,
en doén ons al hoe meer soos Hy. Wat belangrik is, is nie dat ons struikel nie,
maar dat ons volhard, en onder leiding van die Heilige Gees bly groei.

Daarom ontwikkel ons in geloof sowel as in dade. Om reg te doen.
Ons kan nie net klem lê op wat ons gló, sonder om dit te doen nie!
Ons kan nie net reg “praat” nie. Hy wat sê dat hy nie glo nie,
en hy wat leef asof hy nie glo nie, glo uiteindelik dieselfde.
Jakobus sê iets merkwaardig hieroor: die duiwels glo “presies” reg,
maar dit maak nie van hulle Christen gelowiges nie,
en dit verander ook nie die hel in die hemel nie! Jakobus 2:19 sê:
“Glo jy dat daar net een God is? Dit is reg. Die duiwels glo dit ook –
en hulle sidder van angs.”

Wanneer jy deur die Evangelies blaai sien jy dat die duiwel ‘n
baie goeie Bybel-kennis het. Lees maar Matteus 4:1-11.
Die duiwel versoek Jesus in die woestyn deur telkens die
Woord van God aan te haal. Die duiwels was ook die eerste om
te bely dat Jesus die Seun van God is – Markus 1:23-24.
Maar dit het hulle nie dissipels van Jesus gemaak nie.
Jakobus maak die gevolgtrekking in 2:14: “Wat help dit, my broers,
as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie?
Kan so ‘n geloof ‘n mens red?”

Wat is die verskil? Dit is eers as jou geloof-belydenis sigbare dade word,
dat jy werklik ‘n volgeling van Jesus is. Om bloot reg te glo,
beteken nog nie dat jy reg doen nie. Die duiwels glo dat God bestaan,
maar leef nie vir Hom nie. Inteendeel.
Daarom is regte dade die bewys van die Heilige Gees se vrug in jou.
En deur die Heilige Gees in ons, getuig ons gees saam met die Heilige Gees
dat ons kinders van God is. Deur Christus in ons, en ons in Hom,
is dit vir ons moontlik om reg te glo, én reg te doen.
Filippense 4:13: “Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.”

Ernest