God se wil is nie duister nie.
Die gelowiges in die tyd van die Ou Testament het op
die oog af honderde godsdienstige reëls en regulasies gehad.
Maar as ons sien wat Moses vir die gelowige mense
van daardie tyd sê, dan val daar baie meer lig daarop.
Moses sê vir die Israeliete die wil van God is nie in die hemel êrens
weggesteek nie, of êrens in ‘n vreemde land in ‘n boek opgeskrywe nie.
Deuteronomium 30:11-14 praat hieroor.
“Die gebod wat ek jou vandag beveel is nie te moeilik vir jou nie.
Dit is ook nie buite jou bereik nie.” Vers 14 sê:
“Die gebod is baie naby aan jou, jy kan daaroor praat, jy ken dit,
jy kan daarvolgens lewe.”
Die Ou Afrikaanse Vertaling het gesê: “Naby jou is die woord,
in jou mond en in jou hart...”
As jy na jou hart luister sal jy weet wat God wil hê.

Die reëls en regulasies van die Ou Testament was nooit bedoel
om ‘n doel opsigself te word nie.
Dit was net bedoel om rigting te gee aan jou geloofslewe,
in jou verhouding met God.
Dit is waarom die profete van die Ou Testament reeds
opsommings kon maak van God se wil.
Lees byvoorbeeld Miga 6:6-8 en Amos 5:22-24.
God maak sy wil so duidelik hierin bekend, soos in ‘n neutedop!

Ons het daarby ook nog Jesus se voorbeeld om vir ons te sê
dit gaan nie om uiterlike reëls nie, maar oor iets wat van binne af
uit ‘n wedergebore hart kom! Ons wéét wat God verwag!
Hy skryf dit in ons hart en in ons gewete.
Jeremia 31:33 sê ook hieroor:
“Ek sal my woord op hulle harte skryf en dit in hulle gedagte vaslê.”
Luister na die Heilige Gees wat deurgaans jou lei in die wil van God.
Luister is hier om aan Hom, die Heilige Gees, gehoorsaam te wees!
Hy draai nie met jou doekies om oor God se wil nie.
Hy speel nie met jou skattejag daaroor nie.
Jy weet wat God se wil is...!
Die vraag is of jý dit wil..?!

Ernest