Dit is waar: Niemand het nog ooit God gesien nie.
Volledig en volkome in sy volle Godheid nie.
Dit is waarom mense dikwels sê hulle glo nie in God se bestaan nie.
Mense wil oor geloof en God sê en dink soos die
Afrikaanse spreekwoord: “Sien is glo!”
Johannes gee ‘n interessante antwoord op die vraag
of ‘n mens God kan sien.
Hy sê: Kyk rondom jou na die kinders van God, dan sal jy God sien.

Het jy al so daaraan gedink?...dat jou lewe God sigbaar maak?
Wanneer mense na jou lewe kyk en sien dat jy ander mense
onvoorwaardelik liefhet, sien hulle God in aksie.
Reëls en regulasies, wette en gebooie, lei nie mense na die Here nie.

Wat ons doen en hoe ons leef kom spontaan uit ‘n nuwe hart
waarin die Heilige Gees woon, ‘n hart wat nie anders kan nie,
omdat dit God se werk en liefde deur ons is!
God werk deur ons hande en oë, mond en ore, gaan met ons voete.
1 Johannes 4:16 sê: “God is liefde; wie in die liefde bly,
bly in God en God bly in hom.”
In Jesus het God immers in ‘n menslike liggaam verskyn,
en kan ons sien hoe God wil hê dat ons moet lewe!
In Jesus kán ons sien hoe God wil hê ons moet lewe.
En nie net sien nie...maar in Hom kan ons soos Hy lewe!

Ernest