God se verhaal met die mens bly aangrypend.
Deur net bloot te dink aan die verhouding God : mens, is al aangrypend.
Behalwe dat God ons skep, kom maak Hy ook bemoeienis met ons,
en herskep ons in Christus, en leef in ‘n liefdes verhouding met ons.
En dikwels is dit wat vir ons klein en onbeduidend lyk,
juis God wat met ons lewe besig is.

Kyk nou net hoe onbeduidend begin God met die “maak” van koning Saul.
Die Israeliete is moeg vir die Filistyne wat kort-kort hul besittings kom plunder.
Hulle moes dringend ‘n koning kry, ‘n leier wat hulle deur hierdie krisis kan lei.
Maar wie? Wie sal ook kan voortgaan om hul koning te wees?
Hier begin die verhaal van 1 Sameul 9.
Wat sou God daaraan doen?
Die verhaal begin in vers 3 met donkies wat wegraak! Bid jou dit aan...
Sê nou iemand sou vir die oproerige vergadering wat hieroor besluit,
daar by Samuel se huis in Rama, in hoofstuk 8:4-5, gesê het:
“Goed, goed mense, wees geduldig. Daar word iets aan die saak gedoen!
Kis se donkies het al weggeraak!”
Die mense sou gedink het dit is ‘n sinnelose opmerking. Ons sal ook so dink.
Intussen is dit God wat al besig is met sy plan om ‘n koning aan Israel te gee.

Ons vra ook dikwels groot dinge van God in ons nood,
en dan antwoord God op ‘n manier wat vir ons lyk of dit “donkies” met ons
probleem te doen het. Dan sê ons ook sommer:
God doen niks aan die probleem nie!

Saul, seun van Kis wie se donkies weggeraak het, weet niks van dit alles af nie.
Hy weet nie eers God is op sy spoor nie.
Hy is bloot op soek na sy pa se donkies.
Saul kry nie die donkies nie, raak moedeloos, en wil terugkeer huis toe.
Sy pa bekommer hom dalk erg oor hom.
Net hier tree God weer in. Hy gebruik Saul se slaaf!
Die naamlose slaaf sê vir Saul in vers 6: “Ek het nou net daaraan gedink
dat daar ‘n man van God in hierdie dorp is.
Hy word deur almal hoog geag omdat alles wat hy sê waar word.
Laat ons eers na hom toe gaan. Dalk kan hy vir ons sê waar die donkies is.”

Die donkies is steeds die rede waarom hulle die man van God wil gaan sien!
Intussen werk God deur hulle bekommernis oor donkies,
Saul se moedeloosheid met die donkies, en Saul se naamlose slaaf,
om Israel se probleem op te los! Die donkies het alles met God se plan te doen!
God doen nie “niks” nie, maar is handelend teenwoordig, die hele tyd.
God is besig om Saul by Samuel te kry, met donkies! Donkies wat weg is!

Wanneer ons dink God doen niks aan ons probleem nie,
en dit vir ons lyk asof God “met donkies besig is”,
dan moet ons hierdie verhaal onthou...
God besig om daaraan te werk!
As jy maar net kon weet hoé besig Hy met jou is!

Ernest