Die verhaal van hoe God werk met Saul en die donkies,
het nog meer humor.
Saul en sy slaaf is nou op pad na die man van God, Samuel.
En dit oor donkies.
Die gebruik was dat ‘n mindere ‘n geskenk saamneem
as hy ‘n meerdere gaan spreek.
Samuel, die man van God, is deur almal in die dorp hoog geag,
sê 1 Sam. 9:6. Saul het niks om vir Samuel te gee nie.
Sy slaaf het egter ‘n stukkie silwer, drie gram in gewig, in sy sak.
Dit is so groot soos ‘n speld se kop. “Ek het ‘n rand in my sak.”
Hulle besluit om dit vir Samuel te gee.

Die verhaal is vol humor.
Saul dink hy gaan as die mindere na Samuel toe,
om te hoor oor die donkies.
Al die tyd is dit God as sy meerdere wat na Saul toe kom,
en na Samuel toe. Saul se familie is baie welgesteld, sê vers 1,
en hy gee só ‘n klein geskenk vir Samuel!
Waarom die humor?
Geld kan nie koop wat God vir hom in gedagte het nie!
Geld koop nie koningskap wat van God af kom nie!
Geld kan nie koop wat God vir jou in gedagte het nie!
Net God gee dit! Hoe Hy wil. In jou lewe.
Niemand sou nou op die gedagte kon kom dat Saul
vir Samuel omgekoop het om hom koning te maak nie!

Alles wat hier gebeur is God se werk.
Alles lyk so alledaags. Maar dit is God aan die werk.
Die verhaal het ‘n rustige toon tot hier.
En dán, ewe skielik...verse 12-13, “maak gou!...gaan dadelik!...”
Dit is nou besig om dringender God se tyd te word.
Hy het die toekomstige koning, Saul, tot by Samuel gebring.
Nou is alles gereed. Nou gaan God hulle dringend laat optree.
Nou gaan dinge vir hulle begin sin maak.
Die meisies wat hulle aanjaag weet ook nie van God se plan nie.
Maar hulle ken Samuel se bewegings.
Hulle vorm ook deel van God se plan, sonder dat hulle dit weet.
Dit gaan noú die maklikste wees om Samuel in die hande te kry.

God werk daagliks so in jou lewe deur gewone mense,
en deur gewone gebeurtenisse, soos Samuel op pad om te eet!
So werk Hy ook deur jou in ander se lewens,
en jy is nie eers daarvan bewus nie!
Besef net weereens dat God aan die werk is.
Oral! Altyd! In jou lewe!

Ernest