Saul word nie net gesalf om ‘n amp te beklee nie,
maar om vir God op te tree.
Die Filistyne was mos die groot krisis.
Daarom moes die volk ‘n leier, ‘n koning kry.
Nagas, van die Filistyne, val die dorpie Jabes aan.
Wanneer Jabes se mense pleit om hul lewe,
sê Nagas dat hy hulle as slawe sal neem,
nadat hul regter-oë uitgesteek is!
Hulle sou nooit weer met pyl en boog kon skiet nie!
Jabes se mense gaan soek dringend hulp by Gibea,
waar Saul was. 1 Sam. 11:4.
God is nog steeds besig met sy plan.
Saul is nie “toevallig” of “gelukkig” van Gibea af nie!
Almal in Gibea huil as hulle hoor wat gaan gebeur.
Niemand doen iets nie!
Maar toe die Gees van God in Saul werk,
het hy nie net saam gehuil nie. Hy tree op!
Wanneer die Gees van God in jou werk,
kan jy nie onreg maar net dadeloos aanskou nie!

Kinders van God moet “sagmoedige” en “nederige” mense wees,
maar dit beteken nie hulle is vloerlappe nie.
Saul was nederig. Al is hy ryk en koning van Israel,
ploeg hy nog sy eie land.
Maar waar dit om ander mense gaan,
en veral waar dit om die menslikheid van ander mense gaan,
mag gelowiges nie net huil en vloerlappe wees nie. Hulle moet optree.

Van Saul lees ons: toe die Gees van God in hom werk,
het hy woedend geword. Daar is iets soos “heilige woede”.
Dis die soort woede wat Jesus die geldwisselaars in die
tempel se tafels laat omkeer het.
Die woede wat Jesus vir die Fariseërs laat sê het dat hulle
witgepleisterde grafte is.
Woede oor onreg wat aan mense gedoen word.
Ons word ook as kinders van God gesalf tot priester,
profeet en koning.
Om op te tree!

Ernest