Die verhaal van Saul se salwing as koning is merkwaardig.
‘n Paar hoofstukke later, in 1 Samuel 18,
wonder jy of jy nog met dieselfde Saul te doen het.
Dawid is intussen in sy hofhouding aangestel.
Hy het ‘n legendariese oorwinning oor Goliat gehad.
Dawid is op pad terug na Saul, na sy oorwinning oor die Filistyne.
Die vroue langs die pad prys vir Dawid meer as vir Saul, en Saul vererg hom.
Hierdie is nou nie meer heilige woede wat teen onreg is nie,
of ter wille van die eer van die Here is nie. Nee.
Hierdie keer gaan dit vir Saul om sy eie eer. Hy begin Dawid wantrou.
En skielik besef ons dat die man besig is om te verander.
Hy gee die duiwel vatkans. En die duiwel is springlewendig!
Efesiërs 4:27 sê: “Moenie die duiwel vatkans gee nie.”
Kyk net hoe draai Saul se lewe om...
Hy is die een wat ‘n heilige woede openbaar het,
toe Nagas die mense se oë wou uitsteek en hulle slawe wou maak.
In 1 Samuel 19:6 sweer hy dat hy Dawid nie sal leed aandoen nie.
En Dawid vertrou hom daarvoor. Maar Saul gooi hom met ‘n spies!
En hy gooi om dood te gooi! Hy het voor God gesweer oor Dawid!
Ons moet Saul nie te maklik veroordeel nie.
Ons bely dat ons God bo alles liefhet en ons naaste soos onsself.
En dan stap ons uit die kerk uit, die wêreld in, en ons tree soos Saul op.
Mense vertrou ons om hulle lief te hê en God se liefde met hulle te deel...
Ons beloof dit aan God, en ons gee soos Saul aan die duiwel vatkans.
Ons dink om ander lief te hê “soos jouself”, is om aan hulle te gun wat ons
aan onsself gun. Dit is egter verbloemde selfsug. Nie liefde nie.
Om iemand anders lief te hê “soos jouself”, beteken om iemand anders
te help om dit wat jy self graag wou hê in die hande te kry. Selfverloëning.
Van hier af sou Saul se lewe al hoe meer af en af loop, tot die dood.
Om die duiwel in jou lewe vatkans te gee, beteken om hom die kans te gee
om jou hele lewe in besit te neem. Hy is met niks minder as dit tevrede nie.
Saul se lewe is vir ons ‘n voorbeeld daarvan.
Die Bybel sê dat ‘n boosaardige gees uiteindelik van Saul besit geneem het.
Wanneer jy die Gees van God uit jou lewe druk, Hom weerstaan,
word sy plek deur ‘n bose gees ingeneem.
Efesiërs 4:30 sê daarom; “..moenie die Heilige Gees van God bedroef nie,
want Hy het julle as die eiendom van God beseël,
met die oog op die verlossingsdag.”
Ernest