In Amos 8:1-3 laat die Here vir Amos ‘n gesig sien,
van ‘n mandjie vol ryp vrugte.
Volgens Deut. 26:1-4 was ‘n mandjie vrugte ‘n simbool van God
se seën, en die mens se dankbaarheid daarvoor.
Hierdie keer het die mandjie egter ‘n ander betekenis gehad.
Jare lank het die mense daar in Amos se omgewing hul mandjies
vol vrugte voor God kom neersit, soos Deuteronomium voorskryf.
Jare lank het hulle kom dankie sê. Maar God kyk of daardie “dankie”
werklik uit die hart kom, en of dit net ‘n kultiese handeling is.
God kyk na die mense se lewens, en wat dit weerspieël.
En God vind in hul lewens ‘n weerspreking van wat hulle voorgee.
Die gemeente se tyd by God het nou so ryp geraak soos
daardie vrugte waarvan Amos 8:1 praat. Oorryp.
God se geduld met hulle is op ‘n end.
Hulle doen allerhande godsdienstige handelinge,
maar hulle leef nie wat hulle bely nie.
Ons praat so maklik oor dankbaarheid,
maar leef so min daarvan uit teenoor die Here en ons medemens.
Die Here seën ons om ander te seën.
Die mense het getrou en streng hul “dankbaarheid-mandjies”
by die tempel kom neersit, en ook getrou by die wet gebly,
soos die sabbat en feesdae, maar hulle is net godsdienstig. Dis al.
Hulle is besig met ‘n godsdiens sonder God!
Wanneer die sabbat en die feesdae verby is,
vergeet hulle van die arm en hulpelose mense - vers 4.
Wanneer die sabbat verby is, gebruik hulle hul mag om hulself
ten koste van die armes en hulpeloses te verryk.
Hoe magteloser die mense om hulle raak,
hoe meer het hulle die mense uitgebuit. Verse 4-6.
In vers 6 lees ons hoe mense hul moes doodwerk, net vir ‘n paar sandale.
Hoe bring ons ons “dankbaarheid-mandjies” na die Here?
Bevestig ons lewens dat ons dankbaarheid opreg is?
Hoeveel van ons dankbaarheid mandjie word uitgedeel,
aan hulle wat min het, of glad nie het nie?
Wanneer Amos met ons oor onreg praat,
dan sê Amos 8:8 dat die wêreld in beroering kom daaroor,
dat ‘n land sal “sidder” daaroor as ons so selfsugtig is.
Op ‘n dag sal God ons die gesig van ‘n mandjie ryp vrugte laat sien...
Ernest