Desembermaand! Einde van die jaar maand!
Feesmaand! Jesus se koms na die wêreld-maand!
Jesus se koms na die wêreld herinner ons aan God se magtige dade!
Die Psalms besing dikwels die wonderdade en magtige dade van God.
Psalm 150:1: “Loof Hom onder sy grote uitspansel!
Vers2: “Loof Hom vir sy magtige dade.
Loof Hom vir sy eindelose grootheid”.
‘n Roos en ‘n katjiepiering wat onder God se uitspansel groei,
is net so deel van God se “kragtige dade”,
as die aarde wat om sy eie as draai, en dan weer om die son!
Net so deel van God se kragtige dade as die verlossing van Israel uit Egipte,
of die opstanding van Christus uit die dood.
“Loof die Here!”, roep die digter na ons, in vers 1.
Met ‘n hele orkes en al die instrumente! Alles in die loflied!
Kom ons val in en loof die Here!
Psalm 148 sê selfs tussen hemel en aarde ruis ‘n loflied.
En vanuit die hemel. En vanuit die hoogste hemele.
Vers 3 sê die lig van die son en maan, dolfyne, walvisse en seekatte, vers 7,
weerligstrale en die geluid van wind, vers 8,
vrugtebome, wilde diere en voëls, vers 9-10,
alles loof die Here!
Hoe kan ons stilbly in hierdie tyd!?
Die digter roep elke mens, jongmanne, meisies, grysaards,
heersers, regters, hy roep almal op om die Here te loof!
God is so naby aan ons soos die son se lig, en die wind se roering, vers 14.
Kom ons loof Hom!
Ernest