Ons gebruik die Naam “Jesus Christus” so dikwels.
In gebede, liedere, preke, gesprekke...
Baie mense ken die Naam. Maar hoeveel ken Hom?
In die feestyd wat voorlê, sal Jesus se Naam dikwels gebruik word.
Maar dit is een ding om sy Naam te ken, en ‘n ander ding om Jesus te ken.
Markus begin sy Evangelie so:
“Hier begin die Goeie Nuus aangaande Jesus Christus, die Seun van God.”
Dit beteken: die vrolike verhaal van Jesus in Wie God mens geword het.
Die vraag is of die mense God in hierdie mens gesien het?
Die vraag is selfs aan jou of jy God in Hom sien, of sou sien?
Ken jy Hom, of net sy Naam?
Hierdie is die belangrikste vraag van die lewe!
God het lank vooruit al gesê dat Hy so sou kom.
Hy het selfs ‘n aankondiger gestuur om te sê dit is nou die tyd!
Johannes die Doper kom roep dit uit!
Ons sou dink dat almal wat die woorde van die profete ken,
sou hoogs opgewonde wees hieroor, en gereedmaak om Hom te ontvang.
God is op pad! Johannes roep uit: Bekeer julle! God is op besoek.
Hy kom in genade en liefde. Hy kom om te vergewe.
Hy kom om nuut te maak. Om lewens te verander.
Mense stroom na en kom luister na Johannes.
Maar het hulle God herken toe hulle Hom in Jesus gesien het?
En sal ons Jesus herken as ons Hom in die week op straat raakloop?
Hy het selfs gewaarsku dat ons Hom op straat sál raakloop!
Soms as ‘n bedelaar, soms as iemand in die gevangenis,
soms as een wat honger of dors is, siek, of sonder werk.
En daar verskyn God op straat! Gebore in ‘n stal!
En op straat stap Hy by vissers verby. Kom saam met My!
Gewone mense. Simon en Andreas staan op en stap saam.
Jakobus en Johannes los ook hul pa net daar, en volg Hom.
Hulle het Hom nog nooit tevore gesien nie.
Is dit nie vreemd dat jy jou werk en jou pa net so kan los,
en agter ‘n “vreemdeling” aanstap nie?
Is dit die liefde wat van die Man uitstraal? Wat is dit?
Kom ons anders by Hom uit?
Vir ons het Hy mos ook maar net gesê: Kom saam met My.
Wanneer God naby jou kom, wéét jy dit! Jy staan op en stap saam.
Herken jy God in hierdie Man? Staan jy op?...en stap saam?
Ernest