Mense praat oor Jesus. Wie is Hy?
As daar koerantopskrifte was, sou dit seker lui:
“Begaafde spreker boei skare”, Markus 1:22.
“Vreemde wondergenesings”, vers 26.
“Mense gaande oor nuwe leer”, vers 27.
Wonderlik!, sou ons sê of dink.
Maar let op: die mense wat so gaande is,
weet nie wie die Man is nie!
“Wat gaan hier aan?”, vra hulle in vers 27.
En dit ondanks die profete, en die tekens,
en die bevestiging van Johannes die Doper.
Kan ‘n mens in God vaskyk en Hom nie herken nie?
Kan ‘n mens oor God praat sonder om Hom te ken?
Kan ‘n mens God se handewerk sien,
sonder om te weet wie dit gedoen het?, vers 27.
Dié mense het dit reggekry. En ons kry dit vandag nog reg.
Waarom sou ons anders wees?
Hoeveel het hulle nie met eie oë gesien nie, en ons óók!
Ons kyk dikwels ook in Jesus se oë sonder om Hom te herken.
Ons praat ook oor Jesus, sonder dat ons werklik weet wie Hy is.
Ons lewe wys dit...
Terwyl die mense hulle hande saamslaan en vra:
“Wat gaan hier aan?”,
herken die duiwels vir God in die Man van Nasaret!
“U is die Heilige van God!”, vers 24.
Is dit nie vreemd nie, dat die duiwels Hom herken,
en die gelowiges van dié tyd nié?
Mens sou dink dit moet andersom wees.
Jakobus 2:19 sê: “Glo jy dat daar net een God is? Dit is reg.
Die duiwels glo dit ook – en hulle sidder van angs.”
Die duiwels weet wie God is, want God is hulle vyand.
Maar die mense wat moes weet wie God is,
omdat Hy hulle Vriend is, weet nie wie God is nie.
Hoekom nie? Het hulle gewoon nie omgegee nie?
Dalk was hulle só gewoond oor hoe húlle oor God dink,
dat Hy nie inpas nie. Hulle herken Hom nie. Hulle wil dien soos húlle wil.
Het ons ook so ‘n god, wat gemaklik inpas by ons denke,
ons voorkeure, en veral ons vooroordele? Veral ten opsigte van mense.
Of herken, erken en aanbid jy die ware lewende God?
Hy wat gekom het vir elke mens op hierdie aarde.
Hoe sal jy Hom in hierdie feestyd wat voorlê sien, rááksien en dien?
Ernest