Markus 2:1-12 wys die beroering wat ontstaan.
Koerantopskrifte sou kon lees:
“Godslastering, sê die predikante”
“So iets het ons nog nie gesien nie, sê omstanders”.
Fariseërs en Skrifgeleerdes was nie werklik slegte mense nie.
Hulle het omgegee vir hulle mense en wil hulle help,
om so veel as moontlik volgens die Wet te lewe.
Hulle was bekommerd oor hierdie nuwe straatprediker
na wie die mense stroom.
Daarom gaan kyk hulle self wat aan die gang is.
En daar gebeur dit voor hulle oë! Hy sê sowaar:
“Jou sondes word vergewe”! Dit is valse leer!
Dit is tog net God wat sondes kan vergewe.
En hulle is reg as hulle so daarvan oortuig is.
Wat hulle egter nie weet nie, is dat dit God is wat daar praat.
En dit het verdeeldheid gebring tussen die mense.
Hulle het nooit verwag nie,
dat waar iemand se sonde vergewe word,
God in die omgewing moet wees.
Ons sou net so onvoorbereid daarop wees.
In verse 13-17 gebeur dit weer!
Jesus sê vir ‘n man: “Volg My!”,
en die man staan op en loop agter Jesus aan!
Hierdie prediker is besig om die mense te mislei.
Want hierdie man wat hom nou volg, is ‘n tollenaar,
mense met wie jy nie meng as jy ‘n Jood is nie.
Hy gaan eet ook nog saam met hom. Totaal ongehoord!
Vers 15 sê: “Levi het Jesus en sy dissipels genooi om saam
met sy medetollenaars en ander berugte sondaars
by hom te kom eet”. Berugte sondaars!
Dit laat die Fariseërs aan die dissipels vra:
“Hoe kan julle leermeester saam met sulke
immorele karakters eet?” Jode doen dit eenvoudig net nie!
Ons moet in hierdie tyd waar ons Jesus se koms na die wêreld vier,
weer indringend hieroor nadink. Ons ken die regte antwoorde,
maar ons leef met soveel vooroordeel ten opsigte van “ander” mense.
Andersdenkendes. Ander rasse. Ander kulture.
En ons dink ons is beter as hulle.
Ons tree op asof ons beter is. Ons praat oor “hulle”, asof ons beter is.
As die Fariseërs maar geweet het dat dit God se manier van doen was.
Om alle mense te kom soek.
Die wat sogenaamd die geringstes is in hulle oë.
Jesus antwoord in vers 17:
“Ek het gekom om sondaars na die koninkryk te nooi,
nie mense wat dink dat hulle alreeds goed genoeg is nie.”
Dink jy ook jy is goed genoeg, of selfs beter as ander?
Ernest