Dit is nie vreemd dat gewone mense nie vir Jesus herken het nie.
Selfs die teoloë en predikante/pastore het skeef opgekyk.
Hier kom nou ‘n straatprediker wat sommer kerklike gebruike ignoreer.
Deur al die eeue heen is op sekere dae en by sekere geleenthede gevas.
In Markus 2:18 sê hulle vir Jesus - en daarmee vir God –
hoe kan jy sê jy lei mense op die regte pad as jy hulle nie
by ons kerklike gebruike laat hou nie?!

Intussen is dit juis die kerklike gebruike wat hulle so besig gehou het,
dat hulle God nie herken het toe Hy tussen hulle kom staan het nie.
Jesus sê vir hulle: Maar ons hou fees omdat God na die mense toe
gekom het en nou hier by julle is! Ons kan tog nie nou vas nie!
God is belangriker as kerklike gebruike – vers 19.
En buitendien, verse 21-22, as mense God werklik moet leer ken,
kan ons nie net ‘n stukkie lapwerk aan die kerk kom doen nie.
Dan moet ons nuut begin. God maak alles nuut!
2 Korintiërs 5:17-18 beklemtoon dit so mooi:
“Iemand wat aan Christus behoort is ‘n nuwe mens. Die oue is verby,
die nuwe het gekom. Dit alles is die werk van God.”
God wat nou hier tussen hulle staan. En wat hier by ons staan.

Selfs die manier waarop ons die Bybel verstaan,
kan keer dat ons God herken. Dit is wat hier gebeur.
In Markus 2:23-27 is Jesus se dissipels besig om koringare uit te vryf.
Hulle is besig om kos voor te berei, en daarmee werk hulle op die sabbat,
volgens die wet van die Fariseërs. Die Fariseërs is hieroor bitter ontsteld.
Die straatprediker doen dinge wat die Skrif duidelik verbied.
Die sabbat is die dag van die Here jou God. Dan mag jy geen werk doen nie.
Dit is tog so duidelik soos daglig. As jy teen hierdie reëls ingaan,
kan jy nie aan God se kant wees nie.

Maar Jesus sê:
Dink julle die Skrifte gaan in die eerste plek oor reëls en wette?
As julle so dink, dat die Bybel ‘n boek vol reëls is,
maak julle asof God eers die reëls gemaak het,
en toe die mens om die reëls te gehoorsaam.
Dan is die reëls belangriker as die mens.
Dan het God mense gemaak om die sabbat te hou.
Presies die omgekeerde is waar.
Soos die sabbat gemaak is om mense die geleentheid te gee om te rus,
so is die Bybel as openbaring van God geskep, om mense die geleentheid
te gee om God self te ken!

Wanneer reëls en wette vir ons belangriker is as die mens,
dan verstaan ons nie waarom Jesus na die wêreld toe gekom het nie.
Hy het nie gekom ons ons te help om die wet beter te onderhou nie,
maar om ons totaal nuut te maak. Om ons God te laat sien!
God is by ons! Immanuel! En dikwels leef ons Hom mis!
Moenie met godsdiens besig wees nie.
Lééf! Vir en saam met die Here!

Ernest