Ons sien baie uit na Kersfees wat aan die kom is.
Maar is die Jesus oor Wie ons nou al sing,
en oor Wie ons dan gaan sing,
die Jesus van die Evangelie volgens Markus?
Dit is belangrik om dit te vra,
want die mense wat Jesus werklik gesien het,
het ‘n plan beraam om van Hom ontslae te raak!
Pleks van feesvreugde, het hulle ‘n komplot gesmee teen Jesus!
Ons kan maklik sê dat ons dit nooit sou doen nie.
Petrus het ook so gesê in Markus 14:31:
“Ek sal U beslis nie verloën nie.”
En toe hy hom weer kon kry, het hy Jesus nie net een keer nie,
maar drie keer verloën.
Eers toe die haan kraai het hy onthou hoe braaf hy wou wees.
Ons moet ook in ons Kersvreugde, en manier van Kersfees vier,
seker maak of ons waarlik feesvier oor die volle betekenis
van Christus se koms na die wêreld.
Daar was dikwels ‘n skare mense rondom Jesus,
maar Hy het min werklike vriende gehad.
Ons kan dit ook oordink met hierdie Kersgety,
wanneer duisende mense na die kerk sal stroom...
En die wie Jesus werklik gevolg het, was ook nie indrukwekkend nie.
Petrus verloën Hom. Jakobus en Johannes was moeilike mense,
seuns van die donder. Hul ma probeer hulle in belangrike posisies inkry.
Tomas wil nie glo Jesus het opgestaan nie.
Simon, die seloot/messteker is ‘n terroris. Judas verraai Jesus...
Maar dan onthou ons dat Jesus nie na mense toe gekom het
wat dink hulle is goed genoeg nie, 2:17.
Hulle is almal voorbeelde van ons!
Hulle was mense wat Jesus so wou verander,
dat ander mense sou kon sien wat Hy in iemand se lewe kan en wil doen,
as jy verander wil word!
Is jy bereid om totaal verander te word?
Is jy bereid om alles prys te gee, en Jesus te volg?
Johannes 12:25: “Wie sy lewe bo My liefhet, verloor dit;
en wie sy lewe in hierdie wêreld nie bo My liefhet nie,
sal dit vir die ewige lewe behou.”
Ernest