Vir die mense was Jesus vreemd.
Selfs Jesus se eie familie, sy ma ingesluit,
het God nie in Hom herken nie. Sou jy?
Toe Jesus sy dissipel kring begin saamstel het,
en die mense Hom begin verdring het,
het sy familie gekom om Hom huis toe te neem.
Hulle het gedink Hy is nou heeltemal die kluts kwyt.

Dit is nie so maklik om God in Jesus raak te sien nie.
Dit is nie vanselfsprekend nie. Jesus is nie altyd die
“liewe Jesus” met wie ons grootgeword het nie.
Hy kom vir jou sê om mense van ‘n ander ras
so lief te hê soos jy jouself het.
Hy kom vir jou in die Bergrede sê jy moet jou vyand liefhê,
en altyd eerste vergewe.
Hy sê vir jou dat dít die brood is wat Hy vir jou gee,
om van te lewe. Selfs Jesus se eie dissipels het gesê
dit is nou te erg. Wie kan dit regkry? Baie draai om.
En Jesus vra aan Petrus in Joh. 6:67:
“Wil julle nie ook weggaan nie?”
Dit is maklik om Kersliedere oor Jesus te sing.
Dit is ‘n ander ding om jou kruis op te neem,
jouself te verloën, en Hom te volg.

Geen wonder dat die Skrifgeleerdes sê Hy is
van die duiwel besete nie. Meer nog:
Dit is die opperste duiwel wat Hom die mag oor die
bose geeste gee. Daar is nie eers ‘n gedagte dat dit
God kan wees wat voor hulle staan nie.
So anders is Jesus as wat die mense verwag het van die Messias.
Word jy vies vir hierdie kortsigtigheid? Is hulle dan blind?
Wees versigtig...

Jesus sê in Markus 3:35: Sy regte familie, sy eintlike familie,
is hulle wat aan God gehoorsaam is. Die mense wat die wil
van God doen en nie net daaroor praat nie.
Met Kersfees het God in Jesus na die wêreld gekom om
versoening te bewerk, tussen God en mens, en mens en mens.
“As iemand beweer dat hy in die lig is, maar hy haat sy broer,
is hy nog steeds in die duisternis.” – 1 Joh. 2:9.
Vers 6: “Wie beweer dat hy in Hom bly,
behoort self ook te lewe soos Jesus gelewe het.”
Wat vier jy met Kersfees? Dat jy in Hom bly?
Want dit is waaroor dit gaan!
Net dan kan jy Kersfees vier...
anders is dit net nog ‘n vakansiedag.

Ernest