Party glo, en ander nie.
Die vrolike boodskap van God wat mens geword het,
om mense te oortuig dat Hy hulle vergewe en hulle Vader wil wees,
selfs al kos dit die lewe van sy Seun, word oral in die wêreld gesaai.
Jesus vertel dit in Markus 4:1-9. Nie almal wat die verhaal hoor,
glo dit egter nie. As ‘n mens die verhaal van Jesus lank genoeg hoor,
dink jy later ook jy ken die Man oor wie die verhaal gaan.
Dit is soos met televisie persoonlikhede.
Wanneer jy hulle op straat raakloop weet jy wie hulle is,
en groet jy selfs vriendelik, asof julle mekaar al lank ken,
maar hulle ken jou nie. En jy ook nie vir hulle nie.
Wanneer jy die Jesus verhaal lank genoeg gehoor het,
en al hoeveel kere Kersfees gevier het,
kan jy soos die saad wees wat in die vlak grond val,
vinnig ontkiem en groei, maar sommer gou weer doodgaan,
omdat daar nie diepte in jou verhouding met Jesus is nie.
Jy dink jy “ken” Hom, maar Hy ken jou nie. ‘n Groot vergissing.
Om die verhaal van Jesus te glo, is om Hom waarlik te ontmoet,
en regtig te ken, nie net van Hom te weet nie.
Geloof, die koninkryk van God,
is nie iets wat ons met ons verstand uitwerk nie.
Jesus sê dit is soos met ‘n saadjie wat in die grond toegemaak word.
As jy weer sien, groei daar iets! Hoe dit onder die grond ontkiem,
sien ons nie, maar ons sien die resultaat! Markus 4:26-29.
Daarom noem die Bybel die verhouding tussen God en mens
‘n liefdesverhouding. Liefde is nie te verklaar nie,
maar jy sien die resultaat. Dit gebeur en jy sien dit.
So is geloof ook die resultaat van die geheimenisvolle werking
van die Heilige Gees. Maar, en dit is baie belangrik, wanneer ons glo,
word dit sigbaar! Dit kan nie anders nie!
Jesus gebruik ‘n beeld oor die sigbaarheid van geloof.
Die saadjie ontkiem en word groot, en dit maak takke wat so
groot word dat die voëls daarin kom nes maak.
Geloof kan nie weggesteek word nie! Dit is sigbaar vir almal!
Ons kan nie Kersfees vier en daardie geloof is nie sigbaar in ons lewens nie.
Kersfees is die geloof dat God die wêreld so liefhet dat Hy sy enigste Seun gee.
In 1 Joh.3:16-17 lees ons dat hierdie geloof sigbaar sal wees in ons lewens.
“Hieraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê.
Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê.
Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly,
maar geen gevoel vir hom het nie – hoe kan die liefde van God in hom wees?”
Geloof is sigbaar. Jou lewe wys wat jy ten opsigte van Kersfees glo en vier.
Ernest