Toe Jesus in sy tuisdorp preek het mense gesê:
Merkwaardig, die seun van ‘n skrynwerker...
Hy kan nogal die woord goed doen...
En daarby het hulle dit gelaat. Wat Jesus te sê gehad het,
het hulle nie geraak nie. Ons lees dit in Markus 6:1-6.
Vers 2: “Waar kom hy aan al hierdie dinge,
en watter besondere gawe van wysheid het hy
dat daar sulke kragtige dade deur sy hande plaasvind?
Is hy dan nie ‘n timmerman, ‘n seun van Maria en die
broer van Jakobus, Joses, Judas en Simon nie?
En is dit dan nie sy susters wat hier by ons woon nie?”
En dan die laaste deel van die vers:
“Die mense wou niks van Hom weet nie”
Hierdie gebeure sê dat selfs kerkmense Jesus as
“niks buitengewoons nie” kan beskou,
want hierdie gebeure speel af net na die erediens,
net nadat Jesus in die sinagoge die mense geleer het!
Mense wat met godsdiens besig is,
sonder ‘n verhouding met die Here Jesus,
waarin Hy met hulle besig is
plaas Hom gewoon op ‘n voetstuk en los Hom net daar.
Soos die mense hier in Nasaret, is hulle beïndruk met
wat Hy in die erediens in die sinagoge sê,
maar wanneer hulle daar uitstap “los” hulle Hom daar.
Dan verwag ons ook niks meer van Hom nie.
En waar mense niks meer van Hom verwag nie,
word sy krag “vasgebind”. Toe die mense van Nasaret sê:
Nie sleg vir ‘n kind uit ‘n arm huis nie, het hulle Jesus “ontkragtig”.
Omdat die mense Jesus so “gewoon” gevind het,
het hulle Hom nie werklik geglo nie.
En omdat hulle Hom nie geglo het nie,
kon Hy daar geen wonders doen nie, vers 5.
“Hy was verbaas oor die ongeloof van die mense.” – vers 6.
Wat is werklik jou geloof, of ongeloof, oor die Jesus van Kersfees?
Is jy bloot beïndruk met sy wysheid en gawes, of lééf jy vir Hom?
Ernest