Petrus het Jesus passievol gevolg, maar onder ‘n misverstand!
Hy het gemeen Jesus sou een of ander tyd die Romeine uit
Palestina verdryf sodat Israel weer ‘n vrye volk kon wees.
Dit is waarom hy Jesus sterk aanspreek toe Jesus sê
dat Hy moes ly en sterf. As dit Jesus se pad is,
sterf Petrus se drome en ideale ook daarmee.
Terwyl Jesus weerloos staan, wou Petrus Hom as Oorwinnaar sien.
Terwyl Jesus onmagtig met sy boodskap tussen mense ingaan,
wou Petrus sien dat Hy mense dwing om Hom te volg.
Terwyl Jesus wil sien dat mense nuwe mense word,
kinders van God word, wou Petrus ‘n nuwe Joodse staat sien.
Maar Jesus sê vir Petrus: Jy dink nou soos ‘n wêreldling oor verlossing.
Die duiwel hou daarvan dat jy só oor My dink,
want hy wil jou wysmaak dat dit vir jou “die moeite werd” moet wees
om my dissipel te wees. Maar ‘n mens word nie ‘n nuwe mens vir wat
jy daaruit kan kry nie. Jy word ‘n nuwe mens omdat jy by God wil wees
en vir Hom wil lewe!
Dit is waaroor dit in die evangelie gaan.
Dit gaan nie oor wat jy kan wen nie, maar oor wat jy gaan verloor.
Jy gaan jouself in die proses verloor. Jou prioriteite verander totaal.
Markus 8:34-35:
“As iemand agter My aan wil kom moet hy homself verloën,
sy kruis opneem en My volg, want wie sy lewe vir homself wil behou,
sal dit verloor; maar wie sy lewe vir My en die evangelie verloor, sal dit behou.”
Jy is nou nie meer self die middelpunt van die lewe en die wêreld nie.
Liefde vir God laat nou selfliefde plek maak vir naasteliefde.
Selfsug maak plek vir naastediens.
Dit is hier waar baie mense omgedraai het en weggeloop het van Jesus af.
Dit is hier waar jy net gehoor het van Jesus, en of jy Hom werklik nou kén.
Dit is waarom ‘n mens totaal verander moet word,
‘n nuwe mens moet word, as jy Jesus se dissipel word.
‘n Mens is vir of téén Jesus. En as jy vir Hom is,
doen jy soos Hy, en leef jy soos Hy. Dit is al wat belangrik is.
“What you do, is what you believe, the rest is all only religious talk”.
Ernest