Met kersfeestyd beleef ons rondom ons soveel meer vreugde as
ander tye in die jaar. Dit laat ons ook meer vreugde in onsself ervaar.
Die hartseer is dat juis dit, om verskillende redes,
ook baie mense meer teneergedruk maak.

Daarom is dit so belangrik om in hierdie feestyd die volgende
waarheid te onthou en daaraan vas te hou met jou lewe:
“Vreugde is die mees onfeilbare teken van die
bewustheid van God se teenwoordigheid” – Teilhard de Chardin.
Oordink hierdie waarheid baie mooi...
Nie net die teenwoordigheid van God rondom jou,
in wat jy waarneem nie, maar veral die bewustheid van God
se teenwoordigheid in jou!

As jy bewus is van God se teenwoordigheid in die lewe, en in jou,
is vreugde die grootste teken van daardie bewustheid!
Jy ontdek die waarheid wat jou lewe verander,
die waarheid dat God self vol vreugde is oor jóú...!
Sefanja 3:14 sê vir jou: “Wees met alles wat jy is, vrolik en bly...”
Hoekom? Vers 15: “Die Here het ‘n einde gemaak aan jou straf...”
Vers 16: “Moenie bang wees nie...
moenie jou hande moedeloos laat hang nie!”
vers 17: “Die Here jou God is by jou...Hy is vol vreugde oor jou,
Hy is stil tevrede in sy liefde. Hy jubel en juig oor jou...”
Hoé word hierdie waarheid nie beklemtoon nie,
dat God vol vreugde is oor jou!... en daarom vers 14:
“Wees met alles wat jy is vrolik en bly”!

Vreugde is baie meer as geluk. Geluk is vir baie mense ‘n bankrekening
vol geld, of ‘n mooi motor, of die afwesigheid van probleme...
Geluk is iets wat ons sien as ‘n beskerming of versterking van ons lewe.
Vreugde, daarteenoor, kan voorkom sonder die dinge wat ons dink
ons gelukkig maak. Geluk is iets wat mét jou gebeur.
Vreugde is iets wat binne-in-jou gebeur!
Vreugde oorspoel jou lewe as jy in die kern daarvan vir God ontdek!
Vreugde omhels jou as jy jou hand in God se hand sit!
Vreugde plaas jou voete stewig op die grond, terwyl jou oë God in alles sien.

Leef uit die bewustheid van God se teenwoordigheid!
Dit laat jou beker oorloop van God se vreugde, wat soos God se vrede,
alle verstand te bowe gaan.
Vreugde wat oorloop na die wêreld rondom jou.
Hierdie vreugde het God in Christus na die wêreld gebring.
Hierdie vreugde vier ons in hierdie feestyd!
Hierdie vreugde leef ons, elke dag, tot eer van God!

Ernest