Ons leef dikwels so haastig dat ons vreugde misloop.
Nie net moet ons vreugde rondom ons ervaar nie,
maar dit ook self aan mense bring!
“If we are filled with the joy of the Lord, it should be on the brink
of bubbling and gurgling out of us each day!” – L. Sweet.
‘n Dogtertjie het baie van haar Sondagskool juffrou gehou en gesê:
“Haar oë blink so mooi, asof sy die hele tyd binne in haar lag!” Getuienis!
Ons moet die ware vreugde in ons uitleef. Ons moet ons besef,
omstandighede kan nié daardie vreugde in die Here wegneem nie!

Filemon vers 7 sê: “Jou liefde het vir my groot vreugde en bemoediging
gebring, omdat jy die harte van gelowiges verkwik het.”
Elke keer as jy vir iemand liefde gee, lui die vreugdeklokke in die hemel,
oor Christus wat in Betlehem gebore is, en liefde en vreugde gebring het!
Christenskap ís ‘n borrelende vreugdesaak! En ons is vreugdebodes!
C. S. Lewis het gesê: “Joy is the serious business of heaven.”
Daarom moet ons vreugde uitleef! Dit gee ons ook juis soveel méér vreugde!
Iemand het dit treffend so gesê: “When people are involved in the mission
of bringing the good news of joy in the Lord to all people and all nations,
they become more beautiful and joyous people themselves”.

Vreugde leef nie ontkennend oor moeilike tye in die lewe nie.
Vreugde is nie goedkoop nie, en Jesus moes kruis toe kom om dit te bewerk!
Maar hierdie vreugde loop, in die Here, so diep dat dit jou lewe beheers.
Ons weet mos nou dat vreugde juis deel is van die vrug van die Gees! Gal. 5:22.
Dit het die Franse filosoof, Albert Camus, by geleentheid laat sê:
“Ek het in die hartjie van die winter in my lewe uiteindelik tot die ontdekking
gekom dat daar in my ‘n onoorwinlike somer van vreugde is!”

Iemand sê nou die dag: moenie so vinnig deur die lewe gaan dat iemand
‘n baksteen na jou moet gooi om jou aandag te kry nie! Jy leef verby die lewe!
So kan dit ook en verál met ons vreugde in die lewe wees.
Wees versigtig vir die leegheid van ‘n besige lewe! So mis jy vreugde.
God wil dit so graag in die kleinste dingetjies vir jou gee. Moenie dit mis nie!
God fluister in ons siel en praat met ons hart oor vreugde.
Somtyds is ons so gejaagd dat ons nie luister nie, en Hom nie hoor nie,
en vreugde misloop...en dan moet Hy “’n baksteen gooi” om ons aandag te kry!
Dis ons keuse. Maar onthou:
Tyd en luister by die Here, bring die grootste vreugde!

Ernest