‘n Vrou het saam met haar kinders die laaste
Kersinkopies gedoen, en totaal uitgeput in die hysbak
ingeloop op een van die winkelsentrum se baie vloere.
Hygend en moedeloos, van al die feesseisoen se gejaagdheid,
het sy hardop in die hysbak uitgeroep:
“Wie ook al hierdie Kersding begin het,
moet gevind en geskiet word!”
Uit die agterkant van die hysbak het ‘n stem,
rustig en kalm geantwoord:
“Moenie bekommerd nie. Ons het Hom alreeds doodgemaak.
Ons het Hom gekruisig.”
Vir die res van die rit in die hysbak, was dit “dood”-stil.

Die punt is egter baie duidelik:
Ons kán blywende vreugde in die Kerstyd ervaar,
juis omdat Jesus gekom en aan die kruis gesterf het!
Ons wêreldse gejaag na wind laat ons inkopie-hygend
in hysbakke en op roltrappe op en af ry.
Uitgeput sonder vreugde.

‘n Ander vrou het net voor Kersfees ‘n nuwe hart in ‘n
hartoorplanting ontvang. Sy was vol nuwe lewe en vreugde!
Dit het haar in vreugde laat ontplof en laat uitroep:
“Wat ‘n Kersgeskenk! Jy weet, dit is die tweede keer!
Die tweede keer dat iemand gesterf het, sodat ek kan leef!”

Van die begin af hang die skadu van die kruis oor
die krip van Jesus. Hy het aarde toe gekom,
“mens geword en onder ons kom woon” – Joh. 1:14.
Hy het mens geword om vir ons te sterwe,
sodat ons lewenslange vreugde kan hê!
Moenie toelaat dat enige iets of iemand hierdie vreugde by
jou steel nie. Efesiërs 4:27: “Moenie die duiwel vatkans gee nie.”
Moenie deur hierdie tyd jaag, agter wêreldse dinge aan,
en so die vreugde in die Here van Kersfees misloop nie!

“Hier in ‘n krip van hout,
lê die Kind van God...
uit Wie nuwe lewe bot,
maar eendag dra hy ‘n kruis van hout...
die houtkruis,
vir jou en vir mý...”

Ernest