Wat is die eintlike geheim van Kersvreugde?
Waarin is ware Kersvreugde ten diepste te vind?

Die Deense Christen-filosoof, Sören Kierkegaard,
het bogenoemde vraag met ‘n verhaal verduidelik:
Daar was ‘n koning wat ‘n nederige meisie liefgehad het.
Almal het gebewe voor die betrokke koning se persoon en mag.
Tog is hierdie koning se hart sag gemaak deur sy liefde vir die meisie.
Hoé kon hy sy opregte liefde vir haar wys?
Op ‘n vreemde manier het sy koninklikheid sy hande gebind!
As hy haar na sy paleis bring, en ‘n kroon van juwele op haar kop plaas,
en vir haar koninklike klere aantrek, sal sy dit nie kan weerstaan nie.
Maar dit beteken nié dat sy vir hom sal lief wees nie!
Hy wou haar liefde hê. Want sy liefde vir haar was weerloos.

Die koning het besef:
Net in liefde alléén, kan ‘n ongelyke jou gelyke word!
Daarom het die koning besluit om in sy liefde af te daal na haar toe.
Hy het homself in gewone “arm”-klere aangetrek,
homself as’t ware vermom, en na háár huis gegaan.
Hy het haar keer op keer besoek en ‘n nuwe identiteit aangeneem,
om in opregtheid haar liefde te wen. Hy het van sy troon afgeklim,
om haar hart te wen. Want liefde dwing nie. Liefde wen liefde.

Dít, het Kierkegaard gesê, is wat God in Jesus kom doen het!
Hy het afgedaal tot op ons vlak. Filippense 2:6-8:
“Hy wat in die gestalte van God was,
het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan
Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur
die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word.
En toe Hy as mens verskyn het, het Hy Homself verder verneder.
Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.”

God het in Christus mens geword,
om vir ons te wys hoé lief Hy regtig vir ons is!
Hy was waaragtig mens. Hy is gebore net soos ‘n mens,
boonop in ‘n krip in ‘n stal.
Hy was verder bereid om in sy liefde vir ons te sterf aan die kruis!
Weer die vraag:
Waarin is ware vreugde ten diepste te vind?
Die antwoord is eenvoudig:
In Jesus Christus alleen! In God wat mens word om jou liefde te wen!
Hy wat alles gedoen het om jou te oortuig hoé lief Hy jou het!

“Werklike liefde is dit: nie die liefde wat ons vir God het nie,
maar die liefde wat Hy aan ons bewýs het,
deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes.” – 1 Joh. 4:10.
Niks anders gee blywende vreugde nie! Niks nie!

Ernest