Die grootste geheim van Kersfees, is dat dit die
moontlikheid tot die geboorte van nuwe lewe beskikbaar is.
Opstanding tot die nuwe lewe in die Here!
Johannes 3:16 word mooi vertaal in die “The Word on the Street”:
“Cos God’s so passionate about the planet that He donates His Son.
Whoever invests their life in His Son doesn’t die,
but gets given His limitless life.”

Däg Hammerskjold, ‘n voormalige VN-sekretaris,
het oor die geboorte van Christus gesê:
“Hy wat na die toekoms kyk, sien dat die krip op Golgota is,
en dat die kruis reeds in Betlehem opgerig is”.
Jesus het mens geword om aan die kruis vasgespyker te word.
Hy het dit vir eens en vir altyd by mense ingeskerp:
God het jou oneindig lief!
Hy wat na die toekoms kyk,
sien in die doeke waarin die Baba toegedraai is,
doeke wat opgerol lê in ‘n leë graf.
Dán verstaan jy die woorde van Meister Eckhart:
“Wat doen God heeldag lank? Hy skenk geboorte aan nuwe lewe!”
Dit begin met die geboorte van sy Seun.

Ons hoef nie Betlehem toe te gaan op soek na Christus nie.
Ons hoef nie soos die Moslems na Mekka toe te gaan,
of soos die Boeddhiste na Tibet toe nie.
Ons hoef nie op ‘n plek te gaan soek nie.
Met die geboorte van Christus, Johannes 1:14,
het God onder die mense kom woon.
Hulle liggame het tempel-wonings van God geword.
God ís waar sy kinders is.

Wat vra hierdie geheim van jou?
Martin Luther het gesê: “ Al sou Christus ‘n duisend maal
in Betlehem gebore word, maar Hy is nog nie in my gebore nie,
beteken dit net mooi niks.”
Menigtes vier elke jaar Kersfees sonder dat die geboorte
van Christus al in hulle plaasgevind het.
Dis eers Kersfees in jou lewe,
as Hy al in jou gebore is, as jy in Hom glo.

Ernest