Merle Johnson, ‘n Amerikaanse predikant,
vertel dat hy eenmaal ‘n reeks dienste moes hou
op ‘n ander dorp. Hy het saam met die predikant
van daardie gemeente by ‘n gesin gaan eet.
Op pad daarheen het die predikant van die gemeente
aan hom verduidelik dat die huis maar leeg gaan wees,
behalwe vir die grootste noodsaaklikhede.
Die gesin het bestaan uit ‘n jongman, sy vrou,
en drie klein kindertjies. Die hartseer van die verhaal is
dat die gesin op Oukersaand Kersgeskenke in die dorp
gaan afhaal het. Die kinders was so opgewonde
dat hulle in hul slaapklere saamgegaan het.

Met groot blydskap is hulle terug na hul huis toe,
net om by hul aankoms uit te vind dat
hul huis totaal afgebrand het!
Die ironie van die gebeure is dat die jong pa net so
drie weke vroeër ‘n kind van die Here geword het!

Op pad daarheen vra Johnson toe aan die leraar
wat die jong man se reaksie was.
Die predikant van die gemeente het gesê dat hy dit
nou met sy eie oë sal sien.
Toe hulle aan tafel sit het die vrou die gebeure vertel.
Gedurende die aanhoor daarvan het Johnson met
die vraag in sy hart geworstel:
Here, hoekom gebeur so iets met hierdie gesin?

Toe praat die jong pa:
“Before I became a Christian, we dit not have a home.
We had a house. After I became a Christian, we had a home,
even though we lost a house. You may not believe it,
but it was the happiest Christmas of our lives.”
Johnson sê hy kon nie ‘n woord uitkry nie.
Terwyl die trane oor sy eie wange rol,
het hy die grootste vreugde in die jongman voor hom gesien.

Die kerkvader, Atanasius, het gesê:
“Jesus het geword wat ons is, om ons te maak wat Hy is.”
Deur sy oë lyk die wêreld anders, en beleef jy dinge anders.
Vreugde word jou lewe! Ware vreugde in die Here!

Ernest