Lukas 2:1: “In daardie tyd het keiser Augustus ‘n bevel uitgevaardig
dat ‘n volkstelling in die hele ryk gehou moet word.”
Reuse in die wêreld, op die oog af, bepaal wat gedoen “moét” word.
Dit is die mense met mag wat beheer gehad het oor alles en almal.
Almal sou gewillig of onwillig voor hulle buig. Geen keuse nie. Buig.
In hierdie wêreld kom maak God sy eie geskiedenis! Hy besit die mag!
Dit is God se wêreld hierdie, en nie die “reuse” se wêreld nie.
In die Britse museum is daar ‘n landkaart wat uit die sestiende eeu dateer.
Op die kaart staan op verskillende plekke: “Hier is reuse”, “Hier is drake”.
Die kaart was vir ‘n geruime tyd die eiendom van sir John Franklin.
Hy het al hierdie vreesaanjaende aanduidings doodgetrek,
en groot oor alles geskryf: “Hier is God!”
“History is always His story...God’s story”. Hy is in beheer!
En daarom staan daar dan ‘n paar verse later in Lukas 2:7:
“Sy het haar Eerstelingseun in die wêreld gebring
en Hom in doeke toegedraai en in ‘n krip neergelê.”
God se Seun word ‘n doodgewone mens. Nie ‘n aardse “reus” nie.
‘n Doodgewone mens met aardse ouers en in ‘n stal gebore.
Keiser Augustus en spesifiek koning Herodus, die “reuse”,
sou Hom probeer doodmaak – Matteus 2:13-18.
Opmerklik gebruik Lukas woorde soos “haar kind”,
“haar Eerstelingseun”, en nie die woord “hulle” nie.
Dit is nie Josef en Maria se kind nie, maar God se Kind.
Kersfees gaan oor die menswording van God.
Sy Seun moes ‘n doodgewone mens word,
om die mens te help om die gevreesde bose te oorwin.
Deur Jesus Christus se menswording is ons vrygemaak!
Ook van al die sogenaamde “reuse” van hierdie wêreld!
Ernest