Die Boodskap vertaal Lukas 2:14 so:
“Eer aan God wat in die hoogste hemel bly.
En vrede vir almal hier op aarde;
vrede vir almal oor wie God nou feesvier.”
Dit is die lied wat die engele sing!
Dit was die baie goeie tyding: Jesus Christus, Seun van God,
Verlosser van die wêreld lê in ‘n krip in Betlehem.
Hierdie boodskap is skrikwekkend vir Satan.
In die vorm van ‘n weerlose kind verslaan God die bose,
eens en vir altyd. Hoe ironies is dit nie.
Dit sou volbring word deur ‘n kruis op ‘n heuwel,
en ‘n leë graf op opstandingsdag – Paasfees!
Die lied verkondig dat hierdie, skynbaar weerlose Baba,
inderwaarheid ‘n geëerde Koning is wat die enigste ware vryheid
vir mense kan waarborg op aarde.
Hierdie Koning is tot vandag toe by elkeen van sy kinders.
Daarom is sy Naam ook Immanuel: God by ons!
Johannes 1:11-12: “Hy het na sy eiendom toe gekom,...
maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo,
het Hy die reg gegee om kinders van God te word.”
Daarom is Kersfees ‘n oproep om jou lewe om te draai en ‘n ander
rigting te loop as toe jy nog jou eie koning was. Jou eie god.
Kersfees roep jou op tot ‘n hele nuwe manier van sien, dink,
voel en optree wat só radikaal is dat jy daardeur weergebore word.
Jesus het soos een van ons geword om ons te help,
om meer en meer soos Hy te word. Meer en meer aan sy beeld gelyk.
Jesus het self oor sulke mense gesê:
“Geseënd is die wat weet hoe afhanklik hulle van God is,
want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel.”
Ware Kersfees is wanneer die Kind van Betlehem
in jou hart gebore word, en dit jou lewe vir ewig verander!
Letterlik vir ewig!
Ernest