In Lukas 1:67-80 lees ons die aangrypende gebed van Sagaria.
Oor die geboorte van Christus bid hy in verse 78-79:
“God is so ongelooflik goed vir ons.
Binnekort sal sy genade soos die son oor ons donker wêreld
begin skyn. Hy sal lig maak vir almal wat in die donker leef,
ook vir hulle wat in die donker kloue van die doderyk vasgevang is.
God sal ons weer op die pad van vrede laat stap.”
Kyk net hoeveel beloftes van God lê hierin opgesluit.
En hoe het dit nie met die koms van Christus waar geword nie!
Uit hierdie gebed van Sagaria leer ons om te leef uit God se beloftes.
Die probleem is dat ons nie altyd konkreet aan God se beloftes
vashou en daaruit leef nie. Ons neem soort van kennis daarvan,
en gaan maar net aan.
Rudolf Bohren, ‘n Duitse predikant, het dit illustreer met iets
wat met hom en sy vrou gebeur het. Aan die ontbyttafel het sy
aan hom gesê dit gaan reën. Sy kon die wolke sien saampak.
“Miskien”, het hy gesê. En hom nie verder regtig aan die belofte
van reën gesteur nie. Die middag het hy en sy vrou langs die huis
in ‘n woud gaan stap. Weer het sy gesê dat dit gaan reën.
“Dit lyk nogal belowend”, het hy gesê, maar bly voortstap.
Die volgende oomblik het die eerste druppels begin val.
Dit het begin reën!
Skielik was Rudolf se reaksie heeltemal anders!
Hy het saam met sy vrou huis toe begin hardloop!
Baie keer is ons soos Rudolf aan die ontbyttafel.
Hy het toé al die belofte van reën gesien en sy vrou het dit bevestig.
Tog gaan hy maar aan asof dit nie gaan reën nie,
en gaan stap selfs in die woud as die wolke swaar hang.
Ons weet ook van God se beloftes, maar gaan maar aan asof dit
nie daar is nie, en nie waargemaak is nie.
Dit doen nie veel aan die gewone gang in ons lewe nie.
Dan gebeur daar iets: die reën sak uit!
Soos in Sagaria se geval ‘n seun op ‘n laat ouderdom!
En jy besef jy kan nie ooit weer sonder God se beloftes lewe nie.
Sagaria se woorde was een groot vreugdegebed!
Die man word op ‘n laat ouderdom pa,
en kan weer praat nadat hy nege maande lank stom was!
Daarom is sy gebed ‘n dankie aan God vir wie alles moontlik is!
‘n Voorbeeld gebed wat elke Jesus volgeling kan navolg na
die geboorte van Christus. Met Kersfees het die reën uitgesak!
God se ewige seën het in Christus oor ons kom reën!
Leef elke dag uit die beloftes van God.
Hy is die waarmaker van sy beloftes!
Ernest